Baanbreker Voortrekkers geniet jaarlikse kerkdiens
Ten spyte van die pandemie was daar hierdie jaar meer Voortrekkers by die diens as verlede jaar.
Die Baanbreker Voortrekkers het hul jaarlikse kerkdiens op 16 April te Woord en Lewe Kerk in Sunwark Park gehou.
Volgens kommandoleier Hennie Venter was die geleentheid ’n sukses en die opkoms goed.
“Ten spyte van die pandemie was daar hierdie jaar meer Voortrekkers as verlede jaar, en veral die ouers wat dit bygewoon het is dubbel die aantal van verlede jaar. Alle Covid-maatreëls is nagekom,” het hy gesê.
Venter het bygevoeg dat elke Voortrekker nie-bederfbare kos en komberse saamgebring het wat die kommando aan behoeftiges gaan uitdeel.
“Die kommando se leuse vir hierdie jaar is gee groot. Ons het gesien ons lede se harte was oop om te gee.”
Na die diens het die kommando ook trofeë uitgedeel.
AJ Stander het ’n trofee ontvang vir die beste Verkenner. Jadin Cronje, ’n laerskool-lid, het ’n toekenning vir die beste Penkop en Drawwertjie ontvang. Die Leeus-span is aangewys as die beste Verkennerspan en die Skilpad-span die beste Penkop en Drawwertjiespan. Adele Calitz het met die beste volwasse lid 2020 trofee weggestap.
Vir meer inligting oor die Baanbreker Voortrekkers, kontak Venter by 083 560 7574.
Also Read:Baanbreker Voortrekkers maak harte oop teenoor ouetehuis
Also Read: O, die Baanbreker Voortekkers het ‘n perd, ‘n blink stokperd



