Kerk bring hoop met sopkombuis
Oor die 200 behoeftiges baat by die sopkombuis op ’n daaglikse basis.
Nuwe Lewe Boksburg in Cason wil met hul sopkombuis, Hande van Hoop, graag ’n ligpunt wees vir gemeenskapslede.
Die kerk se sopkombuis is in 2008 gestig. In die begindae het die sopkombuis een dag per week mense gevoed by die kerk. Die insiatief het egter oor die jare van krag tot krag gegaan. Tans baat oor 200 behoeftige mense by die sopkombuis op ’n daaglikse basis.
Volgens pastoor Morné du Plessis van die kerk is die doel van die sopkombuis om ’n verskil te maak.
“Ons wil net die gemeenskap bereik, veral in die moelike tye waarin ons vandag leef. Met die pandemie en onluste is die nood soveel groter.
“Die sopkombuis slagspreuk is: jy kan nie alles doen nie, maar jy kan iets doen,” het Du Plessis gesê.
Du Plessis het verduidelik dat die kerk gekookte kos of toebroodjies en sap uitdeel.
“Die kos is van goeie gehalte, en ’n paar vrywilligers dra ook by tot die sukses van die sopkombuis. Alles vir die sopkombuis kom ook meestal uit ons eie sakke uit. Soms maak lede van die publiek of besighede ’n skenking,” het hy bygevoeg.
Volgens Du Plessis sal die kerk dit waardeer as lede van die gemeenskap of besighede die inisiatief sal ondersteun.
“Geen skenking is te klein nie. Dit help ons as iemand byvoorbeeld net een blikkie kos gee. Elke bietjie help,” het hy gesê.
Vir meer inligting, kontak Du Plessis by 083 352 2058.
LEES OOK: Soup kitchen in Boksburg South offers hope to the needy
LEES OOK: Local business feeds the hungry during Covid-19 crisis
![]()
![]()
![]()
![]()



