Neem die emosionele welstand van bejaardes in ag
Volgens 'n plaaslike berader het isolasie en ’n onbekende lang tyd in afsondering vertoon as ’n ernstige uitdaging – vir beide die emosionele en fisiese gesondheid van ons bejaardes.
Zandrie de Beer, ’n geregistreerde berader van Boksburg, het meer inligting veskaf oor die impak van Covid-19 op die emosionele gesondheid van bejaardes.
“Die pandemie het ’n geweldige psigo-sosiale uitwerking op die hele gemeenskap. Gesondheidsangs, depressie, kroniese stres, paniekaanvalle en slapeloosheid is van die merkwaardige aspekte wat bejaardes in hulle alleen-wees ervaar.
“Miskommunikasie rakende die inligting wat aan ouer mense gedeel moet word in terme van die pandemie, en ’n gevoel van onsekerheid, is besig om bejaardes emosioneel meer siek te maak as wat ons werklik besef,” het De Beer vertel.
“Tydens die grendeltydperk hoor ons van ’n groot hoeveelheid mense, bejaardes ingesluit, wat alleen in isolasie geplaas is – die kinders en kleinkinders is nou nie meer so maklik toelaatbaar by ouma en oupa soos tevore nie.”
Volgens De Beer het isolasie en ’n onbekende lang tyd in afsondering vertoon as ’n ernstige uitdaging – vir beide die emosionele en fisiese gesondheid van ons bejaardes.
“Sommige van hierdie mense is bloot afhanklik van hulle kinders om hulle kruideniersware te koop en ander noodsaaklike inkopies af te handel.
“Sommige bejaardes is ook nie meer bekwaam genoeg om hulle eie huise skoon te maak of selfs apteek toe te bestuur om die nodige medikasie aan te skaf nie.
“Dis uiters belangrik dat ons as ’n gemeenskap meer ingelig en bewus moet raak van die ernstige emosionele uitwerking wat die pandemie op ons bejaardes het.
“Psigologies word daar waargeneem dat sommige bejaardes meer kwesbaar is weens hulle staat maak op die emosionele ondersteuning van hulle kinders en kleinkinders.
“Terwyl ons fisiese beskerming aan ons bejaardes teen die pandemie moet bied, moet ons ook die belangrikheid van hulle emosionele welstand in ag neem.
“Ons moet ’n foonoproep meer prioriteit maak as ooit van tevore – tegnologie is gelukkig nou so gevorderd dat ons selfs deur middel van video-oproepe op ouma se slimfoon ’n glimlag of grappie kan deel. ’n Blokkiesraaisel of tydskrif kan bejaardes ook net so lank vermaak totdat hulle na die familie begin verlang.”
ALSO READ: Covid-19: Take care of our elderly
ALSO READ: Tips for senior citizens to stay COVID free
![]()
![]()
![]()
![]()



