Lewende Woord Boksburg samel kos in vir mense in KwaZulu-Natal
Die gemeente het daarin geslaag om ’n sleepwa vol kos van sowat R10 000 in te samel.
Lewende Woord Boksburg het op 18 Julie hul harte oopgemaak teenoor mense van KwaZulu-Natal wat geraak is deur die onluste.
Die kerk het tussen 11:00 en 12:00 te Rietfonteinweg 99 ’n sleepwa vol nie-bederfbare kos van sowat R10 000 ingesamel vir mense in die provinsie wat swaar trek.

“Ons is betrokke by ’n interkerklike projek waar kerke en organisasies in Gauteng noodsaaklikhede insamel vir mense in KwaZulu-Natal. Verskeie mense in die provinsie sukkel om kos en noodsaaklikhede in die hande te kry nadat plunderaars verskeie winkels rot en kaal besteel het. Dit is net ’n klomp kerke en organisasies wat wil help.
“Die produkte wat ons ingesamel het gaan met trokke afgery word na KwaZulu-Natal en dan aan betroubare organisasies oorhandig word wat dit gaan uitdeel aan mense wat dit werklik benodig,” het pastoor Michael Oberholzer van Lewende Woord Boksburg gesê.
Oberholzer het sy dank uitgespreek teenoor almal wat skenkings kom aflewer het.
Alle Covid-19-regulasies is nagekom.
LEES OOK: Wool Centre makes donation to New Life Boksburg and Boksburg SPCA
LEES OOK: Jansieraad samel kos in vir behoeftiges



