#Vrouemaand: Tertia Schalkwyk in die kollig
Schalkwyk het vertel dat sy sou wou sien dat Vrouemaand gepaard gaan met mentorskap.
In die lig van Augustus wat Vrouemaand is, het die Advertiser by suksesvolle sakevrou van Libradene Tertia Schalkwyk ingeloer.
Schalkwyk, ook op die bestuur van die Oos-Rand Sakevroue, het in 2013 haar klerehandelsmerk, Woman’s Hub, gestig.
“Ek is ’n kreatiewe persoon, maar as ’n volronde vrou het ek altyd gesukkel om geskikte klere te vind. Ek het toe my eie ontwerpe geskep en begin eksperimenteer.
“Dit is hoe Woman’s Hub gebore is. Ons adviseer en ontwerp klere om alle vroue te help,” het Schalkwyk verduidelik.
Aan wat skryf jy die sukses van jou besigheid toe?
My sukses is veelvoudig toe te skryf aan my ouers (ook entrepeneurs wat suksesvol was), my man (Corrie Schalkwyk), wie ’n goeie besigheidsman in eie reg is wat my 100% ondersteun, getroue werkers wat die pad saam met my loop en bowenal God se daaglikse seëninge.
Het jy raad vir vroue wat ’n onderneming wil begin?
Dit is belangrik om jou mark en behoeftes te identifiseer en te beantwoord. Ek het wonderlike jarelange klante wat graag hul insette deel. Luister na jou klante. Ook belangrik is aanpasbaarheid. My klante versoek tans gemaklike klere waarmee hul van die huis af kan werk. Ek moes dus my materiale en style aanpas.
Dink jy daar word genoeg gedoen om vroue te bemagtig?
Die wêreld en alle beroepe is oop vir vroue. Dit is gewis nie altyd maklik nie, en daar kan gerus meer gedoen word ten opsigte van bemagtiging en ondersteuning van ons dogters. Baie verloor elke maand ’n week van skool, want daar is nie geld vir doekies nie. Die agterstand en opligting moet al by skool begin. Stimuleer dogters om eie-werk te skep.
Jou boodskap aan vroue en wat beteken Vrouemaand vir jou?
Wat ’n voorreg om ’n vrou te wees. Eintlik voel dit so half oorbodig om Vrouemaand te hê. Ons sit skouer aan die wiel elke maand, maar erkenning is seker goed. Vir my sou ek wou sien dat Vrouemaand meer gepaard gaan met mentorskap. Gaan praat by ’n skool. Borg ’n skoolprojek. Neem leerders of studente vir prakties onder jou vlerk. Maak ’n verskil.
Wat wil jy graag in die toekoms bereik?
Ons het vooruitsigte om dekor en industriële houtmeubels te vervaardig.
Also Read: Let’s all take a stand against gender-based violence
Also Read: Put a spring in your step and enter the SPAR Women’s Virtual Challenge



