Nuwe adjunkhoof by Goudrand gereed vir die uitdaging
Die skool se hoof het gesê hy weet Momberg gaan sy alles gee vir die skool en hom uitstekend van sy taak kwyt.
Tommy Momberg is onlangs aangestel as die nuwe adjunkhoof van Laerskool Goudrand.
Momberg het op 1 September amptelik sy pos betree.
Die passievolle onderwyser het in Boksburg grootgeword. Hy het sy laerskoolloopbaan aan Laerskool Hennie Basson (nou Laerskool Goudrand) voltooi en sy hoërskoolloopbaan aan Hoërskool Dr EG Jansen.
Na skool het Momberg homself by die Universiteit van Suid-Afrika as onderwyser bekwaam. Voordat hy by Goudrand aangesluit het, het hy by Sunward Park High School en later Laerskool Die Arend skoolgegee.
“Dit is vreemd, maar lekker om terug te wees. Daar is herinneringe om elke hoek. Eens ’n Goudjie, altyd ’n Goudjie. Dit was ook die goeie onderwsers van my tyd by Goudrand wat my inspireer het om ’n onderwyser te word,” het die nuwe adjunkhoof gesê.
Die Brakpan-inwoner het gesê dat hy opgewonde is oor die nuwe uitdaging.
“My visie is om nie net ’n verskil te maak in die leerders se lewens nie, maar ook in die gemeenskap. Ek wil saam met Gert Botes werk om die skool na ’n nuwe vlak toe te vat. Almal by die skool het my ook met ope arms verwelkom,” het hy bygevoeg.
By Goudrand gaan Momberg ekonomiese en bestuurswetenskappe aanbied. Hy is ook betrokke by Valke-laerskole provinsiale rugby en sal die sport afrig by die skool.
Goudrand se hoof het gesê hy weet Momberg gaan sy alles gee vir die skool en hom uitstekend van sy taak kwyt.
Lees Ook: #GOBOKKE: Bokkoors loop hoog by Laerskool Goudrand
Lees Ook: Laerskool Goudrand verwelkom nuwe personeel