Boksburg VLU geniet vergadering
Lede van die gemeenskap word uitgenooi om aan te sluit by die tak.
Die Vroue Landbou-Unie (VLU) Boksburg-tak het onlangs ‘n informatiewe algemene maandvergadering te NG Kerk Boksburg, bekend as die Klipkerk, gehou.
Tydens die geleentheid het die vroue lief en leed gedeel.
Volgens die tak se skakelbeampte Hettie Robinson was daar eerstens gepraat oor die vetkoeke wat ten bate van die tak verkoop is.
“Daarna het ons gepraat oor wêreld kosse wat ons aanbied en elkeen het ‘n voorsmaak gegee van wat verwag kan word met die kos op ons wêreld toer by NG Brakpan Wes wat op 23 Julie aangebied word.
Sover is 120 kaartjies verkoop en nog meer mense het laat weet dat hulle ons gaan ondersteun,” het Robinson verduidelik.
Verder het ons ‘n bespreking gedoen oor ons landswye projek waar ons klere vir behoeftige kinders van tussen vir en 18 jaar insamel.
Die plaaslike VLU het ook die sukses van ons daguitstappie na die Hollandse bakkery bespreek en ‘n uitstappie na Calcutta beplan.
“Daar is ook gepraat oor onderhoude wat met verskillende skole gevoer sal word om kinders van werkende ouers te leer hoe om naaldwerk en houtwerk te doen.
“Die kongres is ook op hande en word in Midstream aangebied.”
Robinson moedig die publiek aan om betrokke te raak by die tak.
“Die Boksburg-tak is altyd op soek na nuwe lede. Enige persoon, oud en jonk, is welkom om by ons aan te sluit,” het sy bygevoeg.
Die VLU bestaan al vir 90 jaar en is ’n nie-winsgewende organisasie wat die volwasse vroue verryk en bemagtig.
Hulle glo in bemagtiging deur vaardighede en kennis met mekaar te deel.
Die Boksburg VLU kom elke eerste Woensdag van die maand om 10:00 by die Klipkerk bymekaar.
Kontak Alta Prinsloo by 082 612 0844 vir meer inligting en navrae.
Lees Ook: Word deel van die VLU in Boksburg
Lees Ook: Boksburg VLU sluit jaar af



