Oos-Rand Sakevroue vernuwe Huis Dien Bothma se alzheimer-afdeling
Die Sakevroue gaan nou jaarliks 'n liefdadigheidsprojek aanpak om 'n verskil te maak in die gemeenskap.
Die Oos-Rand Sakevroue se liefdadigheidsprojek vir 2022 om SAVF Huis Dien Bothma se alzheimer-afdeling te vernuwe, het met sukses afgeloop.
Op 28 September het die sakevroue ‘n gholfdag te ERPM gehou om fondse vir die projek in te samel. Ongeveer R35 000 is spandeer aan die opknappings.
Die binnehof van dié afdeling is oorgedoen met kunsmatige gras, ‘n muur in die afdeling is spesiaal mooi geverf met ‘n landskap en die kamers het nuwe beddegoed gekry.
Verder het die sakevroue houtbokse vir kruie of plante laat maak.
Van die ander fondse wat ingesamel is, is gebruik om die handsak-projek wat die vroue vir Huis Dien Bothma gedoen het te befonds en die gholfdag se uitgawes te dek.
Voorsitter van die Oos-Rand Sakevroue, Karen Herbst, het vertel hul is baie tevrede met die uitkoms van die projek.
“Ons het aan die begin van verlede jaar besluit om jaarliks ‘n liefdadigheidsprojek aan te pak. Daar is ‘n groot behoefte in ons gemeenskap en ons wil graag ‘n verskil maak in mense se lewens,” het sy bygevoeg.
Herbst bedank almal wat tot die sukses van die projek bygedra het.
Tiekie Mertens, bestuurder by Huis Dien Bothma, het haar dank uitgespreek teenoor die sakevroue se barmhartige gebaar.
“Ons beker loop oor van dankbaarheid. Dankie dat julle ‘n reuse verskil aan so baie mense se lewens maak. Ons waardeer julle.”
Lees Ook: Boksburg VLU sluit jaar af
Lees Ook: Boksburg VLU geniet vergadering






