Plaaslike duo maak golwe in musiekbedryf
Die musikante het onder andere onlangs feesgangers by Innibos Kunstefees vermaak.
Nie net is Francois Roux en Storm Opperman van die duo, Vrede, besig om opslae in die musiekbedryf te maak nie, hulle is ook passievol daaroor om ander kunstenaars te help om hul drome na te streef.
Dié Witfield-inwoners het ‘n groot gevolg in die Engelse mark met hul groep The Stinging Rogers opgebou, maar nou maak hulle musiek in Afrikaans.
Francois en Storm, die gewilde Dozi se seun, is al vriende sedert hul hoërskool dae by Paul Roos Gimnasium. Hulle het selfs op universiteit saam musiekbesigheid aan die Universiteit van Stellenbosch studeer.
Na universiteit het die twee se paaie egter geskei. Storm het ‘n pos op ‘n seiljag in Frankryk gekry en het in sy aftyd as ‘n straatmusikant opgetree. Hy het egter vinnig besef dat hy meer geld met sy musiek verdien het.
Toe hy teruggekeer het na Suid-Afrika het Francois reeds The Stinging Rogers saam met twee ander vriende begin. Die ander lede het egter die groep verlaat en Francois het vir Storm genader om saam met hom musiek te maak.
Beide Francois en Storm wou nie musiek maak wat as alledaags kommersiëel geag sou word nie, maar wou eerder musiek maak wat vir hulle iets beteken. In die skryfproses het die twee mekaar goed aangevul.
“Storm is baie sterk met liriese konsepte. Hy sal met ‘n vers vorendag kom en ek vind dit makliker om die koor te skryf,’’ het Francois gesê.
Francois en Storm het Boksburg toe getrek om voltyds op musiek te fokus en is nou betrokke by Vonk Musiek.
Storm en Francois mag dalk jonk wees, maar hulle word al reeds geken aan die kwaliteit van hul optredes en het ook hierdie jaar vir die eerste keer by die Innibos Kunstefees gespeel.
“Lewendige vertonings is waarvoor ek en Francois leef. Dit is die beste gevoel om ons musiek op groot verhoë te speel en te hoor hoe mense saamsing. Ek dink ons gunsteling optrede was by Innibos. Daar was ongelooflike klank en verskriklik baie mense en ons was bevoorreg om die verhoog te deel met baie talentvolle musikante,’’ het Storm, vertel.
Van hulle liedjies sluit in Onskuld Van ‘n Kind, Die Son, Onskuld Van ‘n Kind, Perspektief, Klein Wêreld, Hart & Goud, Tyd en Kaalgat In Die Reën.
Die twee het ook al die verhoog gedeel met Spoegwolf, Die Heuwels Fantasties, Francois van Coke en Karen Zoid en het ook vanjaar feesgangers by Innibos Kunstefees saam met onder andere Zaan Sonnekus, Loufi, and Droomsindroom.
Storm het verduidelik Francois is een van die mense wat hom geïnspireer het om musiek te maak.
“My pa het my ook so bietjie touwys gemaak,” het hy geskerts.
Die vriendelikheid van die mense is een van die dinge waarvan hul die meeste van Boksburg hou.
“Hier is ‘n sterk Afrikaanse kultuur en dit is verfrissend. Ons geniet dit om soveel musiek te maak en om ander te help om hulle droom uit te leef,” het hy bygevoeg.
Vrede het reeds baie optredes vir die res van die jaar.
Hulle gaan onder andere optree by Aardklop in Oktober en Carnival City op 18 November by Spoegwolf en die Legends vertoning.
Lees Ook: Sakevroue raak kreatief by vergadering
Lees Ook: Rudi Claase opnuut dankbaar met nuwe enkelsnit



