News

Warm sop, wye glimlagte: CFC bederf Goudrand-leerders

Meer as 85 kinders van Laerskool Goudrand is onlangs bederf deur die Christian Family Church.

Dit was ‘n oggend van warmte – nie net in die stomende bekers sop nie, maar ook in die harte van meer as 85 leerders van Laerskool Goudrand.

Die Christian Family Church (CFC) op Atlasweg het onlangs dié jongspan bederf met ‘n sopkombuis wat meer as net hul mae gevul het.

Verteenwoordigers van die kerk het vroeg op die koue oggend opgedaag, toegerus met sop, sap, koekies en springmielies vir minderbevoorregte kinders by die skool.
Die leerders het in opgewondenheid tougestaan vir die lekkernye, en een seuntjie het gesê dat die kos is so lekker is dat hy wil nog kom haal.

Volgens Annette van Eeden, ‘n lid van CFC se welsynsafdeling, is die inisiatief deel van hul jaarlikse serve our city-projek.

“Op hierdie dag word lede aangemoedig om prakties betrokke te raak in die gemeenskap — of dit nou is deur kos uit te deel, tuine op te knap of geboue te verf. Wat ‘n voorreg is dit nie om die Here se werk te doen en die kinders te bemoedig nie,” het sy gesê.

Annette van Eeden van Christian Family Church saam met ‘n leerling van Laerskool Goudrand, Jewel Olifant.

Lees Ook: Goudrand announces prefects

Een van die leerders, Nathan du Plessis, het sy waardering uitgespreek aan die verteenwoordigers van die kerk.

Die skool self het nie nagelaat om hul dankbaarheid te wys nie.

Bridgette Smith, ‘n onderwyseres by Laerskool Goudrand het gesê: “Namens Laerskool Goudrand wil ons ons opregte dank uitspreek aan die Christian Family Church vir die voedselbydrae aan ons leerlinge wat kos ontvang deur middel van ons voedingsprojek.

“Die kinders was absoluut verheug en bederf. Daar was meer as genoeg vir almal, en hul vreugdevolle glimlagte het alles gesê. Julle goedhartigheid en omgee het ‘n blywende indruk gemaak, en ons is opreg dankbaar vir julle ondersteuning.

“Mag God julle oorvloedig seën vir die liefde wat julle so vryelik deel.”

Met vol maagies en vrolike harte is hierdie bederfdag een wat die leerders nog lank sal onthou.

Lees Ook: Goudrand star players selected for Valke rugby team

   

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Boksburg Advertiser in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button