High SchoolNewsSchool sportSchools

OPVOLG: Een missie, een span, EG Jansen beplan vir rugby terugkeer

“Om wen rugby te speel moet ons hard werk en toegwyd wees.”

Skorsings, finale waarskuwings en verbodsbepalings is opgelê teen Hoërskool Dr EG Jansen-leerders en ouers wat geïdentifiseer is tydens die berugte rugbygeveg wat op 1 Augustus tydens die Virseker Noordvaalbeker-wedstryd teen Die Hoërskool Menlopark uitgebreek het.

Dit is volgens die skool se beheerliggaamvoorsitter, Riaan van Aswegen.

Meer as 100 rugbyouers het op 20 Augustus ’n vergadering by die skool bygewoon, waar planne voorgelê is om die skool se reputasie te herbou en ’n sterk rugbykultuur te vestig nadat die skool na ’n laer liga gedegradeer is.

“Beide spelers wat tydens die wedstryd vir wangedrag geïdentifiseer is, is matriekleerders en lede van die eerste span. Hulle is elk vir vyf akademiese dae geskors en is verbied om aan die laaste wedstryd deel te neem,” het Van Aswegen gesê.

“Na die aanvang van een van die leerders se dissiplinêre verhoor is ’n finale waarskuwing aan hom uitgereik. Die ander leerder se verhoor sal op 26 Augustus plaasvind en afgehandel word. Die vertraging is daaraan te wyte dat sy ouers nie vroeër datums kon bywoon nie.”

Hy het verder gesê ouers wat hulle op die dag aan wangedrag skuldig gemaak het, het lewenslange verbodsbepalings ontvang en mag geen aangeleenthede op die skoolterrein bywoon nie.

“Intussen wag ons nog op die uitkoms van onafhanklike ondersoeke wat deur Noordvaal, asook die Gautengse Departement van Onderwys, van stapel gestuur is na aanleiding van aantygings van rassisme,” het hy gesê.

“As ’n skool wat spog met 110 toegewyde rugbyspelers, neem ons as bestuur verantwoordelikheid vir ons tekortkominge en is ons daartoe verbind om ’n positiewe rugbykultuur te kweek tot voordeel van ons spelers, die skool en die gemeenskap.”

Twee mans
Hoërskool Dr EG Jansen se hoof, Freek Erasmus (links) en beheerliggaam voorsitter, Riaan van Aswegen. Foto: Jani de Beer

Toekomstige planne

Skoolhoof Freek Erasmus het die huidige uitdaging met Dawid se stryd teen Goliat vergelyk.

“God het nie die troon slegs aan Dawid gegee nie. Hy moes groei, leer, val en weer opstaan. Ons is almal teleurgesteld, maar as een span, met een doel, gaan ons die pad vorentoe aandurf,” het hy gesê.

Rudi Dames, rugbydirekteur, het die planne vir die komende seisoen voorgelê, met die klem op dissipline, beide op en langs die veld, asook speler- en afrigterontwikkeling.

“Teen die einde van vanjaar se seisoen het vyf spanne onder die top drie in die Virseker Noordvaalbeker geëindig. Verder is 31 spelers vir provinsiale spanne gekies. Die toewyding en deursettingsvermoë is reeds daar,” het hy gesê.

“Op 7 September spring ons streng aan die werk. Ons doel is om in 2028 weer in die topliga mee te ding en Dr EG Jansen te vestig as een van die land se top 20-rugbyskole.

“Dit is nie hoe ons die jaar wou afsluit nie, maar ons gaan die geleentheid gebruik om te verbeter, diepte binne die rugbyprogram te bou en sodoende beter, sterker en veelsydiger aan die ander kant uit te kom.

“Ons herbou nie om gemiddeld te wees nie; ons herbou om die beste te wees.”

Dames het ouers en spelers gemaan om te alle tye selfdissipline en respek te handhaaf en deurgaans deel te wees van ’n rugbykultuur waarop almal trots kan wees.

“Ons het die bal laat val. Ons moet aanspreeklikheid aanvaar. Wat gedoen is, is gedoen. Nou moet ons die werk insit en hierdie tyd gebruik om vorentoe te beweeg.”

LEES OOK: WATCH: Hoërskool Dr EG Jansen ‘deeply regrets’ rugby brawl while disciplinary steps are taken against players involved

LEES OOK: Freek Erasmus nou aan die stuur van EG Jansen

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Boksburg Advertiser in Google News and Top Stories.

Jani de Beer

Jani went from working as a student intern for the Boksburg Advertiser to being employed as a junior journalist in 2004. Taking time out to start a family, she returned to the Caxton family in 2022 as senior journalist for the Benoni City Times. Her passion is telling her community's stories.

Related Articles

Back to top button