Local news

Freek Erasmus nou aan die stuur van EG Jansen

Die hoof is passievol oor sport en kultuur.

Met 32 jaar ondervinding in die onderwys, staan Freek Erasmus gereed om as hoof Hoërskool Dr EG Jansen na hoër hoogtes te neem.

Die 56-jarige neem op 1 Mei die leisels oor by Leon de Beer, in wie se pos hy sedert sy aftrede verlede jaar waargeneem het.

Erasmus het sy onderwys loopbaan in 1993 by Laerskool MW De Wet Primary School begin. Daarna het hy sy vlerke gesprei na Laerskool Northmead, waar hy vanaf 2000 tot 2006 as departementshoof gedien het.

In 2007 het hy ‘n skuif gemaak na Hoërskool Alberton, waar hy in 2013 bevorder is tot adjunkhoof.

Erasmus het in 2023 by die Jansies aangesluit, ook in die rol van adjunkhoof.

Die nuwe hoof beskryf sy aanstelling as ‘n eer en voorreg.

“Dit is ‘n groot verantwoordelikheid. Ek het groot name wie se skoene ek moet vul,” het hy gesê.

Erasmus streef daarna om voort te bou op die skool se goeie naam en dit selfs verder te verbeter.

“Ek wil graag hê dat EG Jansen die top skool in die Oos-Rand moet wees. Die skool moet uitblink in elke gebied – akademie, sport én kultuur,” het hy bygevoeg.

Roeping
Die onderwys is deel van Erasmus se DNS, aangesien hy in ‘n huis vol onderwysers grootgeword het. Selfs sy twee broers is ook in die onderwys.

“Ek glo die Here het my geroep om hierdie loopbaan te volg. Ek is baie lief vir kinders, en hulle sal altyd my eerste prioriteit bly,” het hy gesê.

Voor hy die pos as hoof aanvaar het, het Erasmus geskiedenis, geografie en toerisme aangebied.

Nie net het hy in die klaskamers sy stempel afgedruk nie – hy is ook passievol oor sport en kultuur.

Hy het rugby, krieket en atletiek afgerig, en het ook ‘n sagte plek vir musiek en koor.

Met sy passie vir onderwys, liefde vir leerders en toewyding aan uitnemendheid, is die nuwe hoof vasbeslote om ’n betekenisvolle nalatenskap by EG Jansen te bou.

Lees Ook: EG Jansen se hoof lê die tuig neer

   

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Boksburg Advertiser in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button