Marilyn (15) se aansteeklike lag sal altyd onthou word
Die skielike afsterwe van Marilyn het 'n leemte in die lewens van haar familie, vriende en skoolmaats gelaat.
Marilyn Russouw, ‘n Graad Agt-leerder aan Hoërskool Dr EG Jansen, sal onthou word as ‘n lewenslustige meisie met ‘n aansteeklike lag, ‘n groot liefde vir haar familie en ‘n diep geloof in die Here.
Volgens haar ma, Denise Grove, is Marilyn op 13 November in haar slaap oorlede.
Die oorsaak van haar dood word nog ondersoek.
Haar skielike afsterwe het haar familie, vriende en die skoolgemeenskappe diep geraak.
Denise beskryf haar dogter as iemand wat haar familie baie lief gehad het, en veral beskermend teenoor haar jonger boetie was.
“Marilyn was geliefd deur almal met wie sy in aanraking gekom het. Daar was nie ‘n persoon met wie sy nie ‘n konneksie kon maak nie. Sy het ons altyd met haar lag en geselskap vermaak,” het haar ma vertel.
Volgens haar was Marilyn ‘n energieke meisie met ‘n groot lus vir die lewe. Sy het altyd ‘n glimlag op haar gesig gehad en was bedrywig in haar vriendekring.
“Daar was nie ‘n aand wat sy nie tot laat met haar vriende op ‘n oproep was nie. Sy het ook ‘n groot liefde vir die Here gehad en was altyd by die kerk, of dit nou gedurende die week of op ‘n Sondag was. Haar geloof was baie sterk.”
Marilyn het verskeie belangstellings gehad, waaronder aksienetbal, waaraan sy saam met haar maats deelgeneem het. Musiek was ook een van haar groot liefdes.
Haar ma sê Marilyn se afsterwe is ‘n groot verlies.
“Dit is nooit maklik om iemand aan die dood af te staan nie, nog minder ‘n kind. Ons vat dit dag vir dag, tree vir tree,” het sy gesê.
Die familie is besig met die reëlings vir die roudiens. Die besonderhede is nog nie finaal bevestig nie en sal na verwagting gedurende die komende week bekend gemaak word.
Denise het ook haar dank uitgespreek teenoor almal wat die familie in hierdie tyd ondersteun en bystaan.

Skoolgemeenskappe rou saam
Hoërskool Dr EG Jansen se hoof, Freek Erasmus, sê die skool is diep geskok deur die nuus en dat leerders en personeel die verlies moeilik verwerk.
“Dit is vir ons verskriklik. Die kinders en personeel vat dit baie swaar. Sy was ’n baie goeie kind- stil, ordentlik en geliefd onder haar maats en onderwysers. Van die skool se leerders het reeds berading ontvang om hulle deur hierdie moeilike tyd te help,” sê Erasmus.
Erasmus het namens Hoërskool Dr EG Jansen sy innige simpatie en meegevoel aan Marilyn se familie, vriende en almal wat haar liefgehad het, betuig.
“Mag julle krag en vertroosting vind in hierdie moeilike tyd.
Laerskool Goudrand Primary, waar Russouw ‘n leerder was, het ook hul medelye met haar afsterwe uitgespreek.
“Dit is hartverskeurend om te hoor dat so ’n jong lewe veel te vroeg geëindig het.
Hoewel haar skoolloopbaan by Goudrand begin het, sal sy altyd deel van die Goudrand-familie bly. Die skoolgemeenskap dink met liefde aan haar en betuig hul opregte meegevoel aan haar familie, vriende en almal wat haar geken en liefgehad het, lui ‘n verklaring wat deur die skool uitgereik is.
Goudrand het ook sy ondersteuning aan Hoërskool Dr EG Jansen se leerders, personeel en die breër skoolgemeenskap in hierdie moeilike tyd uitgespreek.
“Mag die mooi herinneringe aan Marilyn vir almal wat oor haar rou, vertroosting bring. Ons wens haar geliefdes sterkte en krag toe vir die dae wat voorlê.”
LEES OOK: Hoërskool Dr EG Jansen vereer akademiese uitblinkers
LEES OOK: Dr EG Jansen matric learner dies of suspected food poisoning








