Local news

Sarie Klub ontbind na meer as 50 jaar

Die Sarie Klub se leuse is Dien en Ontspan.

Dit is die einde van ‘n era vir dames van die Sarie Klub nadat die klub na vyf dekades ontbind het.

Sarie Klub is in 1971 deur Sarie Oberholzer en Babs Maré gestig en elke jaar het die groep vroue ’n reuse verskil in die gemeenskap gemaak.

Voor die grendeltyd het klublede een keer ’n maand ’n spoggeleendheid by plekke soos die De Bron Airport Gardens Boutique Hotel gehou wat met heerlike kos, goeie geselskap en onvergeetlike vermaak gevul is.

Die klub het ook vir lede en gaste die geleentheid gebied om mekaar beter te leer ken en lief en leed te deel.

Bekendes soos Altus Theart, Dr Daniel de Kock, George Meiring, Arina de Witt, Danielle Pascall, Alsabe Aldrich en Tobie Jooste het al die klub al toegespreek en vermaak.

Volgens Susan Noppe, voormalige voorsitter van die klub, is die nuus dat die klub gaan ontbind onlangs by ‘n lede byeenkoms bevestig.

“Ek is hartseer omdat die klub ontbind. Jy voel amper verlore. Ons gaan nie meer lekker kan lag en gesels nie. Ongelukkig wil die dames nie meer in die aande bestuur nie.

“Ons het probeer om op Saterdae byeen te kom, maar dit is dag wanneer mense tyd met hul families wil spandeer. Daar is ook skoolaktiwiteite aan die gang. Covid-19 het ook ‘n negatiewe impak op die klub gehad. Ons het wel ‘n groep op WhatsApp begin om kontak te hou,” het Noppe verduidelik.

Geskiedenis
Sarie Klub is spesifiek gestig om aan die werkende vrou en vrouens met kinders die geleentheid te bied om aan ‘n klub te behoort.

Die klub is eers die Sarie Marais Klub genoem na die twee dames wat dit gestig het. Later is die naam verander na net die Sarie Klub.

Die klub se oogmerk is hoofsaaklik om aan die behoefte van vandag se moderne vrou te voorsien.
Besondere aandag word geskenk aan die intellektuele stimulering van die vrouens.

Sake van aktuele belang word bespreek en die vrouens word op hoogte gehou van nuwe ontwikkelings en tendense.

Vergaderings word beplan met die oog op hoofsaaklik sosiale aktiwiteite en ontspanning, aangesien dames meesal beroepsdames is, wat ‘n blaaskansie verdien en daarna uitsien.

Die byeenkomste van die Sarie Klub is aanvanklik in ‘n skool klaskamer gehou, later aan huis van die lede, en mettertyd is ‘n saal by Benoni Lake Klub gehuur.

Vir 13 jaar is vergaderings een keer per maand in die Biblioteekteater, Benoni, gehou, waarna hulle na Summerplace geskuif het.

Huidige lede wat vroeër jare aangesluit het en deel van die bestuur was sluit in Susan Noppe (1978), Daleen Kotze (1982), Lydia Laurens (1985), Veronica Bezuidenhout (1986 ) en Lourette Barger (1991).

Lees Ook: Bekende landskapargitek maak ’n draai by die Sarie Klub

Lees Ook: Sarie Klub se eerste vergadering vir die jaar een vir die boeke

   

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Boksburg Advertiser in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button