News

Prokureur Nadine Meintjies se dood laat oud-skool in rou

Meintjies se voormailige onderwyser onthou haar as 'n vriendelike persoon wat altyd die beste vir ander wou hê

Hoërskool Dr EG Jansen is in rou gedompel nadat ’n voormalige leerder, die prokureur Nadine Meintjies, op 2 November naby Eldorado Park doodgeskiet is.

Meintjies en ’n nog ongeïdentifiseerde manlike passasier is in ’n motor by die Klipspruit-Wes-afrit, suidwes van Johannesburg, doodgeskiet.

Polisiewoordvoerder Luitenant Kolonel Isaac Mudau het bevestig dat ’n dubbele moordondersoek geopen is. Nog geen arrestasies is gemaak nie.

EG Jansen het in ’n verklaring bevestig dat die skool met “hartseer en skok” van Meintjies, ’n 2015-matrikulant, se afsterwe verneem het.

“Woorde skiet tekort om die hartseer van so ’n verlies te beskryf,” lui die verklaring.

Die skool het sy innige meegevoel aan Meintjies se familie, geliefdes, vriende en almal wie se lewens sy aangeraak het, uitgespreek.

“Mag julle in hierdie onbeskryflik moeilike tyd vertroosting, krag en vertroosting vind in die wete dat God naby is aan dié wat gebroke van hart is.”

Een van Meintjies se voormalige onderwysers, Marilize Burger, het haar beskryf as ’n vriendelike kind wat ander mense se belange op die hart gedra het.

“Nadine het by my Verbruikerstudies gehad. Ek kan nou nog haar gesiggie voor my sien en onthou waar sy in my klas gesit het. Sy was altyd ’n verskriklik vriendelike mens en wou net die beste vir ander hê. Sy het ná haar eksamen nog vir my ’n geskenk gebring. Dit is ’n vetplant wat ek nou nog het. Sy het geweet ek hou van vetplante,” het Burger gesê.

Burger het bygevoeg dat sy verslae was toe sy die nuus oor haar voormalige leerder ontvang het.

“Ek kon nie glo wat my oë sien nie. Ek was so geskok. ’n Onderwyser onthou nie altyd almal nie, maar sy was een van daardie kinders wat werklik ’n indruk gemaak het. Haar afsterwe laat ’n mens so hulpeloos voel. My hart gaan uit na haar ouers en familie.”

Die onderwyseres het verder gesê haar hart het oorgeloop van trots toe sy sien dat Meintjies daarin geslaag het om ’n prokureur te word.

“Sy wou regte studeer, en ek was so trots dat sy suksesvol daarin was.”

Huldeblyke het intussen op die skool se Facebook-blad ingestroom:
Daniela Silva: Ek kan my nie indink hoe groot die verlies en hartseer haar familie moet ervaar nie. Ons leef in ’n ongelooflik wrede wêreld. My innigste meegevoel.
Connie Calitz: Sterkte aan die familie en vriende. My innige simpatie!
Louise Rautenbach: Dink aan die familie in hierdie hartseer tyd.
Andele Knoetze Snyders: Bitter tragies. Ek bid dat haar geliefdes omvou word deur die Vader se genade en krag.
Erina Botha: So jammer vir julle groot verlies.

ALSO READ: EG Jansen in rou ná afsterwe van geliefde onderwyseres Amanda Nel

ALSO READ: Matrikulant van EG Jansen sterf

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Boksburg Advertiser in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button