Nuwe leier vir Voortrekkers
Die nuwe komandoleier wil die publiek daarvan bewus maak dat die kommando steeds van krag tot krag gaan.
Mari-Louise (Louise) Botha van Sunward Park het onlangs die leisels oorgeneem as die Baanbreker Voortrekkers se nuwe kommandoleier.
Die 32-jarige het in Pretoria grootgeword en in die ouderdom van omtrent 13 na Kempton Park verhuis. Nou woon sy al vir die afgelope 10 jaar in Sunward Park.
Louise het tydens haar hoërskoolloopbaan by Hoërskool Kempton Park betrokke geraak by die Voortrekkers.
“Die Voortrekkers het in ‘n mate my lewe verander, of kan ek eerder sê red. Ek was besig om op die verkeerde pad te loop en die Voortrekkers het my gehelp en geleer om weer koers te kry.
“Ek het wonderlike offisiere gehad wat altyd in my bly glo het, wat my altyd ondersteun het. Ek het tot vandag toe ‘n band met een van my offisiere as kind,” het Louise verduidelik.
Sy het weer betrokke geraak by die Voortrekkers toe haar dogter in 2016 Graad Een by Baanbreker begin het.
Waarom Voortrekkers?
“Daar is ‘n storie van ‘n man wat langs die kus afloop en die seesterre in die see ingooi. ‘n Ander man vra toe hoekom hy dit doen, daar is te veel seesterre? Die man antwoord toe, want dalk net vandag het ek ‘n verskil gemaak aan een seester.
“So ook met die Voortrekkers. Met dit waarvoor ons staan en waarin ons glo, kan mens ‘n verskil maak in ‘n kind se lewe. Daardie verskil maak’ n lewenslange indruk op die mens,” het sy bygevoeg.
Die vriendskappe wat onstaan by die Voortrekkers is ook vir haar ‘n riem onder die hart.
“Al speel die kinders nie pouse saam nie, maak hulle hegte vriendskapbande. Bande wat jare hou. Sommige van my Voortrekker vriende bly in Nederland en regoor die wêreld.
“Ons het al saam oorleef op oorlewingskampe, saam gelag en gehuil. Al bly ons ver en ons lewens het verskillende draaie geneem, kan ons tot vandag toe op mekaar steun.”
Louise se visie is om die kommando te laat groei en mense bewus te maak dat hulle nog nie uitgesterf het nie.
Die Baanbreker Voortrekkers kom elke Maandag van 16:00 tot 17:00 by Laerskool Baanbreker bymekaar.
Vir meer inligting, skakel Louise by 074 911 1225.
Lees Ook: Baanbreker Voortrekkers bedrywig
Lees Ook: Baanbreker Voortrekkers geniet jaarlikse kerkdiens



