Local news

Hou Bok-borsbeeld in Boksburg- FAK

Volgens die FAK moet die borsbeeld van WE Bok nie geskuif word nie omdat Bok deel is van Boksburg se erfenis en nie Germiston nie.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) veroordeel die besluit om die borsbeeld van WE Bok, na wie Boksburg vernoem is, te verskuif ten sterkste en het ‘n petisie daarteen van stapel gestuur vir lede van die publiek wat ook ontsteld is.

Bok se borsbeeld staan tans by die Boksburgse munisipale kantoor se raadsaal – langs die ererol.

Volgens die FAK het die EFF ‘n dringende mosie ingedien om die beeld te skuif na die Germiston-museum, wat goedgekeur is.

“Die EFF steun op die argument dat Bok een van die oorspronklike outeurs van apartheid was. Bok is in 1904 oorlede, 44 jaar voor die instelling van apartheidswetgewing.

“Dit is weereens nog ’n bewys van die aanval op die Afrikaner se erfenis en kultuur en die FAK sal dit nie duld nie,” aldus ‘n verklaring van die FAK.

Verder voel die FAK dit is kranksinnig dat die Ekurhuleni metroraad se speaker die EFF se dringende mosie laat dien het voor die raad sonder enige deurdagte of behoorlike proses wat gevolg is.

“Die mosie, wat deur die ANC gesteun is, het gedien voor die raad sonder enige vorm van ’n openbare deelnameproses of ’n erfenisimpakstudie.

“Die mosie is in April goedgekeur, maar die provinsiale erfenisraad kan nie die besluit bekragtig voordat aan hierdie vereistes gehoor gegee is nie.

“Geen openbare deelnameproses is tot op hede gedoen nie en daar is nie ’n erfenisplan in plek nie”,aldus die verklaring.”

Die FAK voer aan dit op sigself wys op ’n swak ondeurdagte besluit wat die raad inderhaas geneem het.

“Bok is ’n baie belangrike figuur in die geskiedenis van die Oos-Rand in Gauteng. Hy het in 1876 uit Nederland na Suid-Afrika verhuis. Daarna het hy op verskeie vlakke van die regering gedien.

“Met die onafhanklikheidsverklaring is hy as die eerste staatsekretaris van die Suid-Afrikaanse Republiek benoem.

Dit is ’n pos wat hy vir byna ’n dekade sou beklee. Daarna is hy as regeringskommissaris in Johannesburg aangestel.

“In sy hoedanigheid as staatsekretaris het Bok die goudeise in die Oos-Rand gebied van Transvaal geregistreer. Bokstraat in die Johannesburgse middestad is ook na hom vernoem.

“Bok is deur die Franse Republiek vereer met ’n ridderskap in die Legioen van Eer en deur die Portugese regering met ’n ridderskap in die Orde van Our Lady of Immaculate Conception van Vila Viçosa,” lui die verklaring.

Die FAK voel Bok is deel van die erfenis van Boksburg en nie Germiston nie.

Dit is nie duidelik wanneer die borsbeeld geskuif gaan word nie.

Die petisie is op die FAK se webtuise, https://www.fak.org.za/we-bok-borsbeeld/

Die Advertiser het die Ekurhuleni-metro genader om kommentaar en dit sal bygevoeg word sodra dit ontvang is.

Lees Ook: Kry ‘n eeu van Boksburg se geskiedenis op jou boekrak

Lees Ook: Happy Heritage Day! Hacks for the perfect family braai

   

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Boksburg Advertiser in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button