Susan Bandenhorst Voortrekkers skenk aan Bybelgenootskap
Die kommando gee die jeug die geleentheid vir spangees, kultuur deur avontuur in die natuur, karakter bou en pret.
Die Susan Badenhorst Voortrekker Kommando het onlangs R1 000 oorhandig aan die Bybelgenootskap van Suid-Afrika, danksy kommandojeugleier, Donovan Marais, se fondsinsamelingsprojek.
Die kommando bedank almal wat bygedra het tot die projek – Conner Pieterse en Jay Cee Weppner wat die meeste geld ingesamel het asook Ds Johan Peyper van die Bybelgenootskap.
Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika bestaan om aan die kerk en die inwoners van Suid-Afrika bekostigbare Bybels te voorsien, vir elkeen in hul eie taal en in geskikte formate sodat almal die lewegewende boodskap van die Woord mag ervaar.
Susan Badenhorst Voortrekker Kommando, gestig op 22 Januarie 1980, is ‘n dinamiese jeugbeweging wat steeds groei.
“Ons is ‘n beweging wat die norme van goeie Afrikanerskap, goeie burgerskap en Christenskap uitleef. Ons gee geleentheid vir spangees, kultuur deur avontuur in die natuur, karakter bou en pret,” verduidelik kommandoleier Gerhard Marais.
Die kommando kom elke Maandagmiddag tussen 17:15 en 18:15 bymekaar by die NG Kerk Witfield, Lowther Straat 65.
Alle kinders van Graad R tot Graad Sewe en hoërskoolleerders word uitgenooi om betrokke te raak. Die beweging bied ook uitstekende geleenthede vir werkende volwassenes en ouers in die gemeenskap om betrokke te raak.
Vir meer inligting, stuur ‘n WhatsApp-boodskap aan die kommando by 083 293 1107.
Lees Ook: Baanbreker Voortrekkers bedrywig
Lees Ook: Susan Badenhorst Voortrekkers se vaardighede tydens kamp getoets



