Paartjie vier 60 jaar van ‘n gelukkige huwelik
Die paartjie is steeds net so lief vir mekaar soos die dag toe hulle ontmoet het
‘n Mens kon Petro Nel (83) deur ‘n ring trek toe sy na kerk op Casonweg loop met haar mooi hakskoene. Dit het dadelik haar man, Alex (83), se aandag getrek.
Sestig jaar later is dit steeds duidelik dat Alex en Petro van Beyers Park se liefde vir mekaar sterk is. Dié egpaar vier op 22 Desember hul diamant huweliksherdenking.
Alex, oorspronklik van die Oostelike Provinsie, het verduidelik dit was liefde met die eerste oogopslag.
“Ek het eendag saam met my vriend, Ernie, op Casonweg gery toe ons ‘n mooi meisie sien loop het. Sy was mooi aangetrek met hakskoene en het pragtig gelyk. Ernie het haar geken en stel toe voor dat ons haar by haar huis gaan aflaai.
“Toe ek by haar stop wou sy eers nie in die kar nie omdat ek ‘n vreemdeling is. Eers toe sy vir Ernie in die kar sien, het sy ingestem,” het Alex verduidelik.
Daarna het Alex, wie eers na matriek Boksburg toe getrek het nog nuut was in die omgewing, haar saam na die ERPM Rugbyklub dans gevra. Van daar af het die liefde begin blom.
‘n Paar maande later het hulle in die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Boksburg-Noord getrou.
Volgens die paartjie is onvoorwaardelike en opregte liefde die sleutel tot ‘n suksesvolle huwelik.
“Hy is ‘n besonderse man wat my nog altyd bederf het. Hy bring elke oggend vir my ‘n koppie tee in die bed,” het sy gesê.
Alex het al die jare sy eie besigheid gehad terwyl Petro administratiewe werk gedoen het by Malherbe Rigg and Randwell Attorneys.
Die paartjie is geseënd met drie dogters, Elize Nysschen, Denise Hattingh en Zaan Smith en agt kleinkinders.
Hulle raad aan jonger paartjies is, “Praat dinge uit en doen alles in liefde. Moet nooit dink jy doen te veel in die huwelik nie.”
Alex en Petro het hul spesiale dag saam met familie en vriende by Hoërskool Dr EG Jansen se hotelskool gevier.
“Dit was wonderlik en die diens en kos by die hotelskool was puik,” het Petro bygevoeg.
Lees Ook: Atlasville couple celebrates 50th anniversary
Lees Ook: Liefde blom steeds na 60 jaar





