Ontmoet die nuwe personeel by Ons Winkel
Die plaaslike tak moedig lede van die publiek aan om goedere soos klere, beddegoed en breekware aan die winkel te skenk.
Die Solidariteit Helpende Hand Boksburg se Ons Winkel het nuwe personeel wat nou aan die stuur van sake is.
Jolandi Potgieter is onlangs aangestel as die bestuurder van die liefdadigheidswinkel. Sy vat die leisels oor by Amanda Zeelie wat onlangs in die ouderdom van 53 oorlede is.
Dié Witfield-inwoner bring sewe jaar se ervaring na die tafel. Sy het voorheen by Foschini-groep en Mega-apteekgroep gewerk.
Haar visie vir die winkel is om hard te werk en seker te maak klante is gelukkig.
“Ons wil ook soveel mense help as wat ons kan,” het sy verduidelik.
Verder is Emily Mayebase van Witfield onlangs bevorder na vloerbestuurder by die winkel. Mayebase het drie jaar gelede as verkoopsdame by die winkel begin werk. Sy het ‘n passie om ander te help.
Christian Botha help ook uit by die winkel op ‘n Maandag, Woensdag, Vrydag en Saterdag.
Solidariteit Helpende Hand se Ons Winkels dra tot ‘n verskeindenheid projekte by: Ons Sentrums, studielenings en werkskepping vir hul kontrakteurs. Die inisiatief vorm boonop ‘n wonderlike netwerk binne Helpende Hand.
Potgieter het benadruk die gemeenskap is welkom om enige oortollige items in hul huise aan die winkel te skenk. Dit sluit in beddegoed, klere, skoene, breekware en meubels.
Die winkel is op weeksdae oop van 10:00 tot 16:00 en Saterdae van 10:00 tot 13:00.
Vir meer inligting, kontak André Zeelie (voorsitter van die plaaslike tak) by 060 550 6077.
Lees Ook: Helpende Hand wil Warm Winter Liefde gee
Lees Ook: Helpende Hand Boksburg se Amanda laat groot leemte





