Chemikè Visser, ‘n Graad Vyf leerder van Laerskool Baanbreker breek rekords in sportsoorte soos hokkie, spiesgooi, stoei en gewigstoot, maar haar droom is om eendag uit te draf vir Nieu-Seeland se vroue rugbyspan.
Die Boksburg Advertiser het by haar gaan inloer om meer uit te vind oor haar en haar rugby.
V: Van wanneer af speel jy rugby en wat het jou geïnspireer om die sport te beoefen?
A: Ek kry my liefde vir rugby van my pappa af. Ek het in kleuterskool, toe ek vier jaar oud was, rugby begin speel by Rugga Kids. Daar was ek die enigste dogtertjie.
V: Waar speel jy tans rugby en van wanneer af beoefen jy die sport?
A: By die Boksburg Uile Rugby Klub, in 2019 toe ek agt jaar oud was, het ek saam met die o-9 seuns ‘tackle rugby’ begin speel.
Weens Covid kon ek vir 2020 en 2021 nie verder klubrugby speel nie, maar gelukkig dié jaar was klubrugby weer oop.
V: Watter posisie speel jy?
A: Flank (6).
V: Wat is die hoogtepunte in jou rugbyloopbaan sover?
A: Dat ek die laaste drie gedruk het vir die 2022 seisoen.
V: Dink jy daar word genoeg gedoen om rugby onder vroue te bevorder?
A: Nee, want daar is nie genoeg geleenthede vir ons jong laerskoolmeisies om rugby te speel nie.
V: Wie is jou gunsteling Springbok rugbyspeler?
A: Eben Etzebeth.
V: Hoe balanseer jy sport en skoolwerk?
A: My Mamma help my om alles te balanseer.
V: Ervaar jy enige uitdagings as vroue rugbyspeler?
A: Ja, want ek kry nie dieselfde geleenthede as die seuns om skoolrugby te mag speel nie. My skool val onder die Valke distrik en meisies mag nie saam met seuns rugby speel nie. Ongelukkig is daar ook nie meisiesrugbyspanne vir my nie.
V: Hoeveel tyd bestee jy aan jou sport en hoe bly jy fiks?
A: Ek spandeer 3.5 ure ‘n dag net aan my buitemuurse sport.
Tydens skool sportseisoen soos netbal en hokkie spandeer ek vyf ure elke dag aan my sport.
My stoei hou my definitief fiks.
V: Gee ‘n paar interessante feite oor jouself?
A: Ek is baie sterk. Ek is ‘n tomboy. Ek stoei, doen gewigstoot en het ‘n groot liefde vir rugby. Ek is baie lief vir diere.
V: Ondersteun jou familie en vriende jou rugbydroom?
A: Ja. Ek is baie gelukkig.
V: Wat wil jy graag eendag in rugby bereik?
A: Om uit te draf as kaptein vir Nieu-Seeland se vroue rugbyspan.
Verder het Chemiké onlangs uitgeblink by die ASA Sub Youth Championships. In die gewigstoot het sy hier die eerste plek verwerf en ‘n Central Gauteng Athletics record van 11.87m opgestel.
Sy het die 10de plek in die turbo javelin behaal.
Lees Ook: Girls join the Valke
Lees Ook: Plaaslike vrouerugbyspelers vat uitdagings aan



