Bethlehem Huis van Brood se Kerspartytjie ‘n reuse sukses
Die kinders het die partytjie geniet.
Bethlehem Huis van Brood het vreugde verskaf aan ongeveer 500 kinders met hulle jaarlikse Kersfunksie, Kersboom vir die Gemeenskap, op 10 Desember te Van Dyk Park Winkelsentrum.
Vele ouers is nie in staat om vir hulle kinders Kersgeskenke te koop en Kersfees spesiaal te maak vir hulle kinders nie, en daarom het die organisasie besluit om hierdie inisiatief aan te pak.
Tydens die partytjie is daar lekker geëet, gedans en poppespel en boerespel is vir die kinders gedoen.
‘Kersvader’ het ook ‘n draai kom maak.
Plaaslike sangers Franco van Zyl en Chanel Brits het die skare met sang vermaak.
Ansa Mostert, bestuurder van Bethlehem Huis, beskou die dag as ‘n sukses en bedank almal wat daartoe bygedra het.
“Die grootste borge van die dag was Kosmos Aftree-Oord (Sue Opperman, Sue Ungerer, Elsie en Hans Els en Hester Hartswater wat gewerk het om 300 geskenke voor te berei).
“Kattie Terblanche en Hettie van Zyl het die Bethlehem-span se hemde geborg. Woord en Lewe het donasies vir warmbrakke, popcorn en lekkers verskaf.
“Looitjiepryse is geskenk deur Franco van Zyl, Van Dyk Park Hardeware en A’s Cafe. Groot dankie aan ons fotograaf Joanie Pelser asook DJ Darius Joubert.”
Met afsluiting is elke kind met ‘n emmer met lekkers en ‘n geskenk bederf.
Lees Ook: Suiderland Volkspele lede vereer tydens saamtrek
Lees Ook: Bethlehem Huis van Brood benodig gemeenskap se hulp om kinders te bederf





