Oud-EG leerder druk stempel af in musiekbedryf
Stephan was nog altyd passievol oor musiek.
Stephan Nel, ‘n oud-leerling van Hoërskool Dr EG Jansen, is besig om sy merk in die musiekbedryf gemaak.
Die Advertiser het by dié Linksfield-inwoner gaan inloer om meer uit te vind oor hom en sy loopbaan.
Wanneer het jy die vermaakbedryf betree en waarom?
My destydse sangonderwysers, Malie Kelly, het in 2008 my aangeraai om vir ‘n oudisie te gaan vir Let there be Rock wat in Sun City was. Ek het die oudisie gedoen en was ses weke later sak en pak in Sun City. Daar het my loopbaan afgeskop. Ek het na dit in ongeveer 26 produksies gesing.
Waarom is jy passievol oor die vermaakbedryf?
Omdat musiek, kreatiwiteit en sing in my bloed is! Daar is iets wat binne my gebeur wanneer ek voor mense staan en deur woorde en musiek myself met hulle kan deel.
Watter prestasies in jou loopbaan lê jou na aan die hart?
Ek leer nog om meer te vier, want eintlik is elke klein of groot geleentheid, ‘n seën. As ek iets moet uitsonder, sou dit wees om vier agtereenvolgende jara in Dubai op te tree en my onlangse sewe-maand-lange kontrak in Munich, Duitsland.
Jy is gemaklik met enige genres, maar watter een is jou gunsteling?
Afrikaanse pop! Daar is niks wat my so opgewonde kry, soos ‘n liedjie in my eie taal nie!
Saam met watter kunstenaar sal jy eendag wil werk?
Ek het die groot voorreg gehad in 2021 om saam Elandre ‘n verhoog te deel by die Expressing Hope Benefit Concert, maar ek sal nog ‘n lied saam hom wil opneem.
Jy het onlangs vir ses maande gesing in Duitsland. Hoe was daardie ervaring?
Dit was so ‘n groot voorreg. Die Duitsers het my met ope arms ontvang en die konserte daar was ongelooflik lekker! Dit is heerlik as mense so opgewonde raak oor jou en jou so ondersteun. Ek het selfs ‘n Afrikaanse treffer elke aand gesing en alhoewel hulle nie ‘n woord verstaan nie, het dit hulle harte geroer.
Wat is volgende vir Stephan?
Ek wil meer optree en ek wil my eie land meer verken! Daar is weer ‘n Duitsland kontrak op die horison. Ek sal ook graag nog oorspronklike musiek wil doen.
Is daar iets wat jy wil byvoeg wat jy voel belangrik is?
My musiek is beskikbaar op iTunes, Spotify en YouTube.
Ek het ‘n passie vir musiek en mense. Ek is oop vir enige geleentheid of plek om op te tree. My groot droom bly om in my eie land sukses te behaal en ‘n merk te maak in die bedryf hier. My webblad, www.stephannel.com, het videos en inligting oor my loopbaan.
Lees Ook: Plaaslike musikant stel nuwe enkelsnit vry
Lees Ook: Plaaslike musikant blink uit by Afri-Indie Onafhanklike Kunstenaartoekennings



