Local news

Ma en dogter leef voluit na hul borskanker oorwin

Die ma en dogter het albei sterker aan die ander kant uitgekom na hul reis met kanker.

‘n Ma en dogter van Van Dyk Park se uitkyk op die lewe het verander nadat hulle ‘n paar jaar uit mekaar gediagnoseer is met borskanker.

In die lig van Borskankermaand wat na ‘n einde se kant toe staan, vertel Esta Taljaard (82) en Aletta van den Heever (55), eienaars van A’s Café, aan die Boksburg Advertiser hoe hulle kankerreis hul geleer het om die dag te pluk eerder as om te vra, ‘Hoekom ek?’

Esta, wat nou tien jaar kankervry is, vertel haar kankernagmerrie het in 2013 begin nadat sy ‘n knop in haar bors gevoel het.
“Ek was eers nie baie bekommerd daaroor nie, maar was later tog dokter toe en het vir al die toetse gegaan,” het sy vertel.

Sy is toe uiteindelik gediagnoseer met fase drie borskanker.
“Die dag toe ek uitvind het ek gedink dit is God se wil en dat Hy my hierdeur sal dra.”

Esta is deur dr Carol Benn behandel en het vir ‘n jaar chemoterapie deurgemaak en het daarna ook bestraling gekry.

“Ek het baie goeie behandeling gekry. Dit het my nie so siek gemaak nie. Ek is ‘n sterk vrou. My hare het wel uitgeval en dit is iets waaraan ek gewoond moes raak.”

Die Here en my kinders het haar deur die moeilike tyd gekry.

“Ek sou dit nie gemaak het as dit nie vir hulle was nie. Ek het ook ander uitdagings gehad soos die verlies van my man en seun, maar ek staan nog.
“Ek was onlangs weer vir’n mammogram en is steeds kankervry,” het Esta gesê.

Drie jaar na Esta se diagnose was dit Aletta se beurt om in 2016 die kankerstryd aan te durf.

Aletta het verduidelik sy iets wat gevoel het soos ‘n ertjiepit in haar bors gevoel en besluit om daarna te laat kyk.

Sy is toe gediagnoseer met fase twee borskanker.

“Ek het nie ‘n mediesefonds gehad nie. Ek is toe verwys na die Helen Joseph Hospitaal en is nie ‘n dag spyt nie. Die diens was uitstekend. Dr Ben was ook in daardie tyd betrokke by die hospitaal en het my behandel,” het Aletta gesê.

Dit was vir Aletta, wat nou drie jaar kankervry is, ‘n skok om hoor dat sy borskanker het.

“Ek het daardie dag gehuil en klaar gehuil. Gelukkig was my ma ‘n voorbeeld. Ek het gesien hoe my ma dit hanteer het, wat dit makliker gemaak het. Dit was wel moeilik en mens sien hoe erg ander mense dit het.”
Vir Aletta was haar kankerreis ‘n lang proses.

“Ek moes bestraling kry en het ook rekonstruksie laat doen. Dit help nie om op ‘n hopie te gaan sit nie. Ek het besluit om te baklei en vandag gaan dit goed.
“Ek het maar gebid en met mense gepraat. Ons het ook by groepe aangesluit soos die Sunward Park Cancer Support Group, “ het Aletta bygevoeg.

Verder vertel Aletta een van haar vriendinne, Amanda Zietsman, het nou ook borskanker en dat hulle haar probeer help en by staan.
“Ons verkoop armbande in die winkel wat ‘n familielid van haar maak om te help om fondse vir haar in te samel.

“Hierdie Borskankermaand het ons elke Vrydag gevier met iets pienk, soos pienk pannenkoek. ‘n Gedeelte van die wins op die verkope word dan aan Amanda geskenk.”
Dié ma en dogter se boodskap vir Borskankermaand is, “Gaan maar vir daardie mammogram. Tegnologie het verbeter en dit is nie meer so erg nie. Hoe gouer hulle dit optel hoe beter. Maak seker jou kop is reg as jy gediagnoseer is en luister na jou liggaam.

“Doen wat jou dokter sê en kyk na jouself. Borskanker is nie noodwendig ‘n doodsvonnis nie.”

Lees Ook: #breastcancerawareness: early detection saves lives

Lees Ook: Women share their breast cancer experiences

   

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button