Boksburg-ontploffing: Slagoffer praat oor sy moeilike jaar
Familielede se ondersteuning het hom deur hierdie tyd gedra.
Elke keer as Willem Thomas Botha Swart die oprit na die Tambo-gedenkhospitaal se ongevalle-afdeling sien, speel die gebeure van die noodlottige gastenker ontploffing op 24 Desember voor hom af.
Byna ‘n jaar later is dit steeds moeilik vir Willem, wat tydens die ontploffing beseer is, om die stukke op te tel.
Die Boksburg Advertiser het hom by die hospitaal ontmoet om uit te vind hoe dit nou met hom gaan.
Al gaan hy steeds deur ‘n donker tyd, is hy vriendelik. Dit is duidelik dat hy diep in die harte van die personeel gekruip het soos hulle met hom wil kom gesels as hul hom sien.
Willem sukkel om te glo dat dit al amper ’n jaar na die tragedie is en onthou die dag soos gister.
Willem het verduidelik dat hy vroeg daardie oggend buite gewag het (waar die ambulanse aankom) vir die hospitaal se apteek om oop te maak toe hy ‘n lawaai gehoor het.
“Ek het eers gedink dit is ‘n kragopwekker was ingeskop het, maar nie eens 10 minute later nie was daar ‘n ontploffing en later nog twee. Dit was nag. Almal het net gegil en jy hoor hoe vensters breek. Daar is ‘n man wat in die straat geloop en gil het ‘My been is af’. Hy is kort daarna oorlede.”

Willem het in sy rolstoel probeer vlug van die vlamme, maar het brandwonde aan sy bene en nek opgedoen. Sy hande is ook matig beseer.
Hy was daardie dag met die ambulans na die Verre Oos-Rand Hospitaal geneem aangesien Tambo se ongevalle-eenheid in die ontploffing beskadig is. Sowat twee dae later is hy oorgeplaas na Tambo.
Hy het vir maande in die hospitaal herstel, maar vertel dat sy beserings nou beter begin voel.
“Dit besig om gesond te word, maar dit is steeds seer en ek sukkel om te slaap.
“Ek moet volgende week na die Charlotte Maxeke Hospitaal toe vir ‘n veloorplanting. Hulle gaan ook ‘n prosedure uitvoer aan my bene en dan sal ek hopelik weer kan begin loop,” het hy vertel.
Dit was ‘n verskriklike jaar vir Willem en hy ontvang sielkundige behandeling om die trauma te verwerk.

“Dit gaan beroerd en ek sukkel op die oomblik. Ek het op ‘n stadium by ‘n plaaslike tehuis gewoon, maar kan dit nie meer bekostig nie,” het hy vertel.
Sy suster, Alet O’Neill en niggie, Hendrieka Botha het hom deur hierdie tyd gedra.
“Hulle het vir my kom kuier en my ondersteun. Ek sou dit nie sonder hulle gemaak het nie. Ek wil ook die hoof uitvoerende beampte se assistent, Johanna Sorm, bedank vir haar moeite.”
Verder hoop hy dat sy operasies suksesvol sal wees sodat hy ‘n werk sal kan kry.
Indien iemand sal kan help met Willem se mediese onkostes of noodsaaklikhede, kontak Hendrieka by 083 290 3920.
Lees Ook: Gas Tanker Explosion: Support golf day to raise funds for victims
Lees Ook: Gastenker tragedie: Man steeds in hospitaal



