Local news

Bloedskenkers red Melanie se lewe

Melanie moedig nou ander mense aan bloed te skenk.

Melanie van Niekerk van Ravenswood sal vir altyd dankbaar wees vir bloedskenkers wie se goedhartigheid haar lewe gered het.

Die 50-jarige is in 2017 gediagnoseer met akute myelogene leukemie.

Na die diagnose moes Van Niekerk verskeie kere bloedoortappings kry terwyl sy chemobehandeling gekry het.

“Die bloedoortappings het my letterlik aan die lewe gehou. Die bloed bring vir jou hoop. Jy weet jy gaan soveel beter voel na ‘n bloedoortapping,” het sy bygevoeg.

Verder onthou Van Niekerk dat pasiënte soms lank gewag het vir bloed omdat dit so skaars is.

“Wanneer die bloed kom hoor jy sommer hoe die susters in die gange begin sing,” het Van Niekerk gesê.

Melanie van Niekerk toe sy in 2017 behandeling gekry het vir leukemie

Van Niekerk moes ook ‘n paar maande later ‘n beenmurgoorplanting kry en is sedertdien kankervry.

“In my geval kon hulle my eie stamselle oes en oorplant,” het sy verduidelik.

Nou moedig sy lede van die publiek aan om bloed te skenk.

“Moenie die belangrikheid om ‘n bloed skenker te wees nie onderskat nie. Bloed red lewens. Die rippel effek is massief, want jy help ook die persoon se naasbestaandes hul geliefde terug. Gaan maak ‘n verskil en vind jou doel op aarde.

“Waar daar lewe is, is daar hoop. Waar daar asem is, is daar lewe.”

Om bloed te kan skenk moet jy:
• Tussen die ouderdom van 16 tot 75 wees.
• Jy moet 50kg of meer weeg.
• Jou gesondheid moet in ’n goeie toestand wees.
• Jou tattoes moet ouer as drie maande wees.
• Jy moet ’n gesonde leefstyl hê.
• Jou bloed moet geskik wees vir oortapping aan ’n ander pasiënt.
• Jy moet toegewyd wees om gereeld bloed te skenk.

Vir meer inligting, kontak Peter Mafela by die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens by 079 891 1169 of stuur ‘n e-pos na peter.mafela@sanbs.org.za.

Also Read: East Rand Toyota’s Erwee knighted for 13th time

Also Read: Erwee scoops 15th consecutive Automark Knight accolade

Related Articles

Check Also
Close
 
Back to top button