Volkspelers vereer tydens saamtrek
Die laer kom Dinsdae om 19:00 te Witfield Park Aftree-Oord bymekaar.
Johan (77) en Sophie Marx (71) is tydens Inspan Volkspelelaer se jaarlikse saamtrek te Trans-50 Witfield Park Aftree-Oord op 14 September vereer vir hul betrokkenheid by Volkspele.
Die paartjie van Northmead is al 60 jaar betrokke by Volkspele en het albei sertifikate daarvoor ontvang.
Johan se liefde vir Volkspele het op skool ontstaan. Hy het ongeveer 12 jaar gelede aangesluit by Inspan en was voor dit betrokke by verskeie laers. By die laers het hy ook gedien as leier en onderleier.
Die nefie het verduidelik dat hy passievol oor Volkspele is omdat hy oor die algemeen lief is vir kultuur.
As jy hom vra hoe Volkspele oor die jare verander het, sê hy ongelukkig het baie laers doodgeloop.
“‘n Mens kon gewoonlik kies en keur by watter laer jy wil aansluit. Skole was ook meer betrokke by Volkspele,” het Johan gesê.
Johan sê ‘n hoogtepunt in sy Volkspele-loopbaan was toe hy ‘n goue medalje vir 50 jaar se betrokkenheid ontvang het.

Sophie kon nie die saamtrek bywoon nie omdat sy ‘n heupoperasie ondergaan het.
Volgens Marita van der Walt, sekretaresse van Inspan Volkspelelaer, was die saamtrek ‘n sukses.
Spelers het van heinde en ver gekom om die geleentheid by te woon. Dit sluit mense in van plekke soos Potchefstroom, Pretoria, Randfontein en Krugersdorp.
Tydens die saamtrek was daar heerlik gesing en saamgespeel.
“Dit was lekker, en baie van die aftree-oord se inwoners het die saamtrek bygewoon.”
Een van die inwoners wat die geleentheid bygewoon het, Alida Bekker, het gesê dit was lieflik om die Volkspelers te sien optree.
“Dit was baie goed, en ek het gehou van die nuwe liedjies wat hulle gedoen het.”
Inspan Volkspele Laer se oefenaande is op Dinsdae om 19:00 by Witfield Park Aftree-Oord.
Vir meer inligting, kontak Marita by 074 116 5497.
Lees Ook: Volkspelers maak ‘n tiekiedraai by Inspan se kuieraand
Lees Ook: GALERY: Senior burgers geniet volkspele optrede








