Helpende Hand Boksburg hou suksesvolle ontbyt
Die organisasie se doelwit is om die kringloop van armoede te verbreek.
Helpende Hand se Boksburg-tak het onlangs ‘n suksesvolle netwerk-ontbyt te Afrique Boutigue Hotel aangebied.
Die geleentheid het ‘n platform geskep waar vrywilligers, ondersteuners, kerke, diensgroepe en ander gemeenskapsorganisasies bymekaar gekom het om strategies te beplan oor die opheffing van hul gemeenskappe.
Die ontbyt het ’n inspirerende ruimte geskep om saam te dink oor hoe ons ‘n volhoubare toekoms vir almal kan bou.

Gaste het die geleentheid gehad om na die insiggewende toespraak van Hannes Noëth te luister, wat weer eens die belangrikheid van samewerking en geloof beklemtoon het in die bou van sterk gemeenskappe.
Noëth is ʼn trotse Afrikaanse skrywer en die uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand. Hy het teologie gestudeer en was ‘n leraar by verskeie gemeentes. Hy dien op die direksies van die Erfenisstigting, die Voortrekker Monument, die Solidariteit Beweging Trust, die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) en Maroela Media.
Helpende Hand wil ook graag hul opregte dank uitspreek teenoor Afrique Boutique Hotel in Boksburg, wat die lokaal en ‘n uitsonderlike ontbyt beskikbaar gestel het.

Hierdie netwerk-ontbyt het beslis ’n grondslag gelê vir positiewe verandering en volhoubare gemeenskapsbetrokkenheid.
Solidariteit Helpende Hand is ’n nie-winsgewende organisasie wat veral betrokke is by behoeftige skole, ouetehuise en individuele gesinne.
Die organisasie se doelwit is om die kringloop van armoede te verbreek deur kinders opleiding te bied sodat hulle selfsorgende volwassenes met ’n roeping in die lewe kan wees.
Vir meer inligting, kontak Annerie du Pisanie by 083 990 3624.
Lees Ook: Boksburg VLU geniet Oktober vergadering



