Gastenker oorlewende sterf na skielike siekte
. Sy niggie, Hendrieka Botha, het verduidelik dat Swart siek geword het.
Willem Thomas Botha Swart (58), wat diep in mense se harte gekruip het nadat hy beseer is in die gastenker ontploffing op 24 Desember 2022, is op 14 Januarie oorlede.
Sy niggie, Hendrieka Botha, het verduidelik dat Swart siek geword het. Hy is toe in die Tambo Gedenkhospitaal opgeneem, waar hy ‘n paar dae later gesterf het.
“Hy het griep en diarree gehad toe hy in die hospital opgeneem is.”
Botha het gesê dat haar neef, wat sy hele lewe lank in Boksburg gewoon het, ‘n groot leemte laat.
“Hy was besonders. Hy het swaargekry, maar het steeds positief gebly.”
Verder onthou Botha hom as ‘n gelowige man wat daarvan gehou het om te stap.
“Hy het nooit ingeskryf nie, maar kon lag-lag ‘n maraton voltooi.”
Swaarkry na die ontploffing
Botha het verduidelik Swart het deur ‘n moeilike tyd gegaan nadat hy in die ontploffing beseer is.
Hy het ook ‘n jaar na die voorval met die Boksburg Advertiser gepraat oor die swaar tye na die voorval.
Swart het vertel wanneer hy die oprit na die hospitaal se ongevalle-afdeling sien, die gebeure elke keer voor hom afspeel.
Hy is daardie dag met die ambulans na die Verre-Oos-Rand Hospitaal geneem, aangesien Tambo se ongevalle-eenheid in die ontploffing beskadig is. Sowat twee dae later is hy oorgeplaas na die Tambo Gedenkhospitaal.
Swart het vir maande in die hospitaal herstel.
Parkrun
Brenda Steenkamp, ‘n vrywilliger koördineerder by die Boksburg parkrun, het verduidelik dat Swart al jare betrokke is by die parkrun.
“Ek onthou nog hoe hy met ‘n pak, wat iemand vir hom gegee het, gestap het, en nie met oefenklere nie. Toe hy nie meer self kon stap nie, het hy ‘n vrywilliger beampte geword. Hy het almal aangemoedig en was so behulpsaam. Hy het selfs in sy rolstoel dit gedoen.
“Na die ontploffing het ons ook vir hom en goedjies gevat. Ons het ook probeer om vir hom ‘n gaatjie te kry waar hy as beampte kon wees. Hy was selfs daar met die verbande om sy bene. Ons gaan hom baie mis,” het sy bygevoeg.
Botha laat drie susters agter.
Daar sal ‘n verassing vir hom gehou word.
Also Read: Gas tanker tragedy: units at Tambo Memorial Hospital reopened



