Helpende Hand maak weer sukses van Tassie-projek
Die plaaslike tak het 162 tassies uitgedeel.

Solidariteit Helpende Hand het onlangs weer talle leerders se lewens verryk deur hul jaarlikse Skooltassie-projek.
Met hierdie projek het Helpende Hand gesorg dat talle Graad Een-leerders reg is om die akademiese jaar aan te pak.
Die projek is daarop gemik om behoeftige Graad Eens te bemagtig om op dieselfde vlak as hul maats die skooljaar te kan begin.
Helpende Hand se Boksburg-tak het reeds 162 tasse uitgedeel by skole soos Laerskool Goudrand, Van Dyk Park Primary School, Oasis Christian School, Iguguletu Child and Youth Care Centre en Laerskool Concordia.
“Hierdie tassies is nie net ‘n draer van boeke en skryfbehoeftes nie, maar ook ‘n draer van hoop, selfvertroue en die wete dat iemand in hul toekoms glo.
“Ons wil ‘n spesiale dankie sê aan ons ongelooflike vrywilligers en elke persoon wat bygedra het om hierdie droom vir die kinders moontlik te maak. Julle is die hartklop van hierdie projek,” het die tak se voorsitter, Annerie du Pisanie, gesê.
Die organisasie se doelwit is om die kringloop van armoede te breek deur kinders opleiding te bied sodat hulle selfsorgende volwassenes met ’n roeping in die lewe kan word.
Elke tas is gevul met skryfbehoeftes en hulpmiddels soos potlode, gom en uitdraaikryte.
Vir meer inligting, kontak du Pisanie by 083 990 3624.
Lees Ook: Helpende Hand Boksburg reik uit na ouetehuise en instansies