Tracey-Lee maak haar merk as veelsydige kunstenaar
Die kunstenaar het al baie bereik sedert sy op 10-jarige ouderdom met musiek begin het.

“Glo in jouself. Moet nie bang wees om jou eie geleenthede te skep nie. Raak betrokke by die musiek gemeenskap en los jou eie unieke stempel vir almal om te sien. Onthou, alles kom met hardewerk en die hardewerk stop nooit nie.”
Dit is die bekroonde kunstenaar van Boksburg, Tracey-Lee Booyens, van Impala Park, se raad aan aspirant-kunstenaars.
Die Boksburg Advertiser het by haar gaan inloer om uit te vind hoe dit met haar loopbaan gaan.
Dit is nou ’n paar jaar sedert jy die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe vir Uitvoerende Kunste verteenwoordig het. Hoe het jou loopbaan sedertdien gevorder?
‘n Mens kan seker sê dat die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe vir Uitvoerende Kunste my nog nie verlaat het nie en steeds ‘n groot rol in my loopbaan speel. Ek het in 2023 ‘n spesiale toekenning by hulle ontvang aangesien ek al baie sukses in die klassieke werêld bereik het. Ek het in 2024 11 goue medaljes, vyf silver medaljes, en een brons ingepalm.
Ek het ook ‘overall female vocalist’ en ‘actress’ vir die ouderdomsgroep 25+ ontvang. Vir die eerste keer het ek ook ‘n ‘grand champion actress’ toekenning gekry en is baie trots op die sukses.
Sedert, 2022 is ek betrokke by die Aldrich Ensemble, en 2023 betrokke by die Croons Collective waar ons jaarliks aan sang optredes werk. Verder het ek my musiek studies verder gevat.
Ek is ook aktief betrokke met beoordeling in sang en drama asook by kunswedstryde soos Con Spirito, SACOPA (Streeks), National Visual Arts, Radikale Redenaars, ATKV redenaars en vele meer.
Het jy jou doelwit om as solokunstenaar te ontwikkel bereik? Wat is jou fokus op die oomblik?
Ek voel ek het, maar ek glo ook dat daar altyd nog meer geleenthede is om verder te ontwikkel. Ek voel my doelwit as solokunstenaar by die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe vir Uitvoerende Kunste was beslis laasjaar bereik toe ek die grand champion actress toekenning ontvang het.
My droom om ‘n veelsydige kunstenaar te wees het in vervulling gekom met my 2023 optrede as Mama Lucia in die opera, Cavalleria Rusticana, asook my opvoering saam met die Croons Collective by Mister Global SA.
Tans fokus ek op die bemarking van my eerste duet enkelsnit, Belle nuit, ô nuit d’amour (Barcarolle), wat ek saam met bariton Andries Aldrich onlangs opgeneem het. Hierdie enkelsnit is ook op alle digitale platforms beskikbaar. Ek wil graag die jaar begin fokus op solo opnames van beide klassieke en moderne liedjies.
Wat is jou grootste trots op jou reis as kunstenaar tot nou toe?
Dat ek ‘n veelsydige kunstenaar is, wat in beide klassiek en moderne musiek style spesialiseer. Meeste klassieke kunstenaars glo dat musiekgenres nie moet kruis nie, maar ek het ‘n manier gevind om beide my klassieke en moderne tegniek saam te laat werk. Dus is my grootste trots die feit dat ek die gehoor met meer as een musiekgenre kan vermaak.
Jy het begin met musiek op 10-jarige ouderdom. Hoe het jou musikale styl oor die jare ontwikkel, en wat is jou grootste inspirasies tans?
Ek was al van ‘n jong ouderdom af baie lief vir musiekteater en popliedere, maar almal het altyd gesê dat ek net ‘n operasangeres sal wees. Ek voel ek het bewys dat ‘n multigenre kunstenaar kan bestaan. Ek kan tans my drome as opera, musiekteater en popsanger uitleef deur my sangprojekte. Natuurlik is klassieke musiek vir my nogsteeds baie belangrik, maar dit is vir my noodsaaklik om betrokke te wees by meer genres.
My grootste inspirasie op die oomblik is om meer betrokke by klassieke kompetisies te word. Unisa gaan juis ‘n sangkompetisie hou, en ek hoop ek sal daarvoor gekies word. Verder is my grootste inspirasie om nooit op te gee nie. Werk aan jou talent, drome, en glo ook in jouself. Aanhouer wen, en as jy na die eerste struikelblok wil opgee sal jy nooit jou sukses kan bereik nie. Ek lewe elke dag by my pa se woorde, “bly nederig”, en dit motiveer my om altyd hard te werk.
Watter uitdagings het jy ervaar?
Dit is nie altyd maklik om te studeer en ‘n “performing”-lewe saam te handaaf nie. Daar is altyd ‘n balans nodig. Ek het vir ‘n ruk gesukkel om daardie balans te vind, maar vandag kan ek met ‘n geruste hart sê dat beide in harmonie lewe. Toe ek laas jaar met my onderwys studies besig was, was daardie balans weereens belangrik. Tussen alles moes ek my tydsbeplanning goed bestuur.
Met wie sal jy graag nog ‘n verhoog wil deel?
Corlea Botha.
Is daar iets wat jy nog wil byvoeg?
Ek het in 2022 my eie sang en drama skool (Cantabile Studio) begin en het al baie sukses met my studente by kompetisies gehad.
My passie was nog altyd om die liefde van musiekonderrig met vele musiekleerders te deel, en ek was bevoorreg om by Sir Pierre Van Ryneveld High School dit te kon bereik met die koor. Ek was die koorafrigter en dirigent verlede jaar en dit was wonderlik om hulle groei en sukses te kon ervaar.
Hulle het uitgeblink by die SASCE koorkompetisie. Ek was ook saam met hulle by die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe vir Uitvoerende Kunste in 2024 en hulle het baie sukses bereik. As mede afrigter van hulle skool was dit ‘n eer om saam met hulle te werk.
Lees Ook: Tracey-Lee verower 37 medaljes by die SA Kampioenskappe vir Uitvoerende Kunste