Schools

EG Jansen se hoof lê die tuig neer

Die hoof beplan om met sy aftrede te reis en meer tyd met tyd met sy familie deur te bring.

Leon de Beer (65), hoof van Hoërskool Dr EG Jansen lê einde April die tuig neer na meer as vier dekades in die onderwys.

De Beer het grootgeword in ‘n huis waar sy pa ook ‘n skoolhoof was en sy ma ‘n onderwyseres.

Hy het sy loopbaan in 1983 by Hoërskool Noordheuwel afgeskop en is ‘n paar jaar later bevorder na departementshoof.

In 1994 is de Beer aangestel as die adjunkhoof van Hoërskool Waterkloof, waar hy ook waargeneem het as hoof in 2009 en 2010.

Daarna het de Beer in 2011 sy horisonne verbreed en die pos as hoof by EG Jansen betree.

In sy loopbaan het hy geskiendenis aangebied en hy was ook betrokke by sport soos rugby, atletiek en krieket. Hy was ook die kadetbevelvoerder by Noordheuwel.

Verder was hy die voorsitter van die Wes-Randse Geskiedenis Onderwysersvereeniging.

Van die hoogtepunte in sy loopbaan sluit in dat hy ‘n deel was van die stigting van die NWU-sportsreeks.
“Ek is ook trots op EG Jansen se akademiese uitslae. Die skool het in my tyd as hoof gereeld toekennings ontvang by die Ekurhuleni-Suid distrik.

“Op die kultuurgebied het die skool ook vir 31 jaar revues van hoogstaande gehalte aangebied.
“In 2013 het EG Jansen se rugbyspan die Beeldtrofee gewen en ons het op verskeie ander kere op die rugbyveld presteer.

“Ons is ook weer uitgenooi om deel te neem aan die Wildeklawer-reeks,” het de Beer bygevoeg.

Die veranderinge wat hy waargeneem het sedert die eerste keer wat hy voor ‘n klas gestaan het tot nou is die manier waarop leerders gedissiplineer word en tegnologie.
De Beer sien uit na die volgende fase van sy lewe en beplan om sy aftrede saam met sy familie te geniet.

“Ek wil ook graag meer reis en betrokke raak by toerisme. Dit sal vir my lekker wees om mense op toere vat soos dit my pas. Verder wil ek meer aandag aan tuinmaak gee.”

Sy raad aan die jonger generasie: “Glo in jouself, werk hard en moet nooit opgee nie. Wees altyd positief.”

Freek Erasmus, die skool se adjunkhoof, sal die waarnemende hoof wees tot die proses om ‘n nuwe hoof aan te stel afgehandel is.

Also Read: Events to diarise

Also Read: Events to diarise! What’s On in Boksburg

   

Related Articles

 
Back to top button