Oosterlig se Juffrou Bredenhand maak druppel vir druppel ‘n verskil
Die organiseerder van die skool se bloedskenkprojek se doel is om in een skooldag 100 eenhede bloed vir die bloedbank in te samel.
In die lig van Bloedskenkmaand in Junie het die Boksburg Advertiser gesels met Erina Bredenhand, die dryfkrag agter die bloedskenkprojek by Hoërskool Oosterlig.
Haar passie vir bloedskenk het as tiener begin, en vandag inspireer sy jongmense om met iets so eenvoudig soos ‘n bloedskenking ‘n lewe te help red.
Waarom is Juffrou so passievol oor bloedskenk?
Ek het as tiener begin bloedskenk. Dit het my laat nadink oor wat ek met my lewe en my liggaam aanvang. Bloed is kosbaar, en ek kan soveel lewens red sonder enige groot opoffering. Soos ek ouer geword het en self operasies ondergaan het, kinders gekry het, en ouer ouers het wat dit nodig gehad het, besef ek al hoe meer die waarde van só ’n onbaatsugtige daad.
Wat het Juffrou geïnspireer om die bloedskenkprojek by Hoërskool Oosterlig aan te pak?
Ek is seker ek is ’n opvoeder in murg en been. Ek leer kinders dikwels meer as net my vak. Baie kinders kry nie meer blootstelling aan die werklikhede van die lewe in hul ouerhuise nie. Ons leer ons Oosies alles wat ons kan – veral omgee vir ander.
Is daar ‘n spesifieke rede waarom Juffrou voel dit is belangrik om die jeug by bloedskenk betrokke te kry?
Die jeug is die volgende generasie van alles – onderwysers, dokters, prokureurs, maar ook verantwoordelike landsburgers. Ons moet hulle leer dat ’n mens nie altyd iets in ruil hoef te verwag nie. Soms doen jy iets bloot omdat dit iemand anders help. As dit boonop ’n jongmens help om gesond te leef, is dit ’n wonderlike bonus.
Watter uitdagings ervaar Juffrou met die projek?
Ons kry baie goeie ondersteuning van die kinders – hulle is eintlik oorywerig! Tyd is ons grootste uitdaging. Daar is nog baie kinders wat graag sou wou skenk, maar nie altyd die kans kry nie omdat hulle van busvervoer afhanklik is.

Het enige spesifieke gebeurtenis of persoon ‘n groot rol gespeel in Juffrou se betrokkenheid by bloedskenk?
My ma, ’n oud-onderwyseres, het ons van kleins af bewus gemaak van ander se nood. Elke klein bietjie help en kan ’n groot verskil maak – en dit kos net ’n bietjie van my tyd.
Wanneer het Juffrou self begin bloed skenk, en wanneer het u besef hoe belangrik dit is?
Ek het begin skenk in my tuisdorp, Witbank, toe ek 16 jaar oud geword het en skenk nog baie gereeld. My ma, ook ‘n onderwyser, het my vertel hoe belangrik dit is. Dit is veral nou maklik omdat die bloedbank bereid is om spanne na skole te stuur!
Waaroor is Juffrou die meeste trots in verband met die projek?
Die kinders wat werklik bereid is om, selfs al is hul bang vir naalde of die onbekende van ‘n eerste keer skenk, steeds dit sal doen vir die goeie doel.
Is daar enige spesifieke prestasies wat vir u uitstaan?
Ons was verlede jaar die skool wat tweede gekom het in Boksburg met die aantal eenhede geskenk,‘n kompetisie wat ons dié jaar gaan probeer wen. Maar selfs al het ons nie gewen nie, was dit ‘n wen vir SANBD en mense in nood.
Wat is Juffrou se uiteindelike doelwit met die bloedskenkprojek?
Ek wil nog meer as 100 eenhede op een skooldag insamel. En ons gaan beslis nog daar uitkom, hopelik teen die einde van die jaar.
Hoe het die leerders oor die algemeen op die projek gereageer?
Baie positief. Die bloedbank deel ook graag inligting met die Oosies en hulle wil graag sien hoe alles werk. Dalk is daar ‘n paar goeie dokters, patoloë en verpleegsters wat ook na so ‘n dag gebore word.
Dit help natuurlik dat die mense van SANBD nie seermaak as die naald in jou arm ingaan nie. Almal is ook mal oor die koekies wat die bloedbank uitdeel.
Hou ons Oosies dop; ons maak ‘n verskil waar ons gaan. Een van die dae gaan ons die 100 eenhede op een dag skenk.
Lees Ook: Oosies maak ‘n verskil met bloedskenkdag
Lees Ook: Laerskool Concordia se bloedskenkprojek kort ondersteuning



