Local news

Boksburg Broodblik-ontbyt bring vreugte vir senior burgers

In Van Dyk Park het ’n spesiale oggend nie net borde gevul nie, maar lewens aangeraak met musiek, lag en opregte gemeenskapsliefde vir ons kosbare senior burgers.

In ’n wêreld waar spoed en eensaamheid dikwels oorheers, het die Boksburg Broodblik/Bread Bin Feeding Project ’n warm en liefdevolle geleentheid geskep vir die senior burgers van Van Dyk Park.

Onlangs het A’s Café met die gelag, gesels en die soet klanke van ’n engelstem gevul, toe ongeveer 40 bejaardes bymekaargekom het vir ’n ontbyt wat nie net hul liggame gevoed het nie, maar ook hul siele.

Hierdie inisiatief het ’n kosbare ruimte geskep waar herinneringe en stories gedeel is, en waar gemeenskapsgees en kameraadskap oorheers het.

Die jong talent Luané-Anél van Staden (18), ook bekend as Lu-Anél, het die gaste bekoor met haar engelstem.

Haar vertoning van bekende liedjies soos Harlekyn, Sprokie vir‘n Stadskind, Lucille, Rhinestone Cowboy en Beautiful Noise het diep in die harte van die senior burgers gekruip en ’n warm atmosfeer geskep.

Verteenwoordigers van die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling, Van Dyk Park Community Patrollers Initiative (CPI), sowel as Wyk 31 raadslid Simangele Sabe, het dit bygewoon.

Alida Jordaan, die CPI sekretaresse, het meer verduidelik oor hulle inisiatief.

“Ons staan hoofsaaklik teen misdaad en doen alles wat ons kan om die gemeenskap veilig te hou.

“Ons het ‘n mediese respons-span, met gekwalifiseerde verpleegsters, wat reageer op noodsituasies in Van Dyk Park. Die CPI het ook ’n taktiese span en 24/7 radiokommunikasie. Ons senior burgers is vir ons kosbaar – julle het ons gevorm en is verantwoordelik vir waar ons vandag is.”

Sam Ntuli van die Gauteng Departement van Maatskaplike Ontwikkeling het verduidelik die departement het verskeie programme wat dié ouderdomsgroep ondersteun.

“Ons programme val onder die Older Persons Act van 2006 en sluit onder andere woonfasiliteite, middagete-klubs vir aktiewe veroudering en burgerlike sentrums in waar ouer mense saam kan kom vir speletjies en aktiwiteite om hulself aktief te hou.

“Dit voorkom isolasie en bevorder samewerking. Ons moedig ook tuissorgprogramme aan waar versorgers die bejaardes in die gemeenskap help.”

Cobus Uys (links) saam met die personeel van A’s Cafe.

Sabe het haar ondersteuning aan die senior burgers uitgespreek en aangekondig: “Ons waardeer julle baie. Ek het ook reëlings getref dat verskillende departemente op 18 Julie van 09:00 tot 13:00 by die Van Dyk Park Piazza Shopping Centre gaan wees om die bejaardes te help met dienslewering en om prosedures te verduidelik.”

Stigter van die Boksburg Broodblik, Cobus Uys, het gesê die geleentheid het sy verwagtinge oortref.

“Ek is dankbaar aan A’s Café en almal wat bygedra het tot die sukses van die geleentheid.”

’n Nuwe fokus
Alhoewel Broodblik voorheen aangekondig het sy deure nie weer gaan oopmaak nadat hul perseel in Boksburg-Noord in 2022 afgebrand het nie, is daar ’n nuwe lewensdoelwit gestel.

Die organisasie is in 2016 gestig met die missie om weekliks mense in nood te voed.

Ná die brand het Uys na Van Dyk Park verhuis en het onlangs besluit om eerder op senior burgers te fokus.

“Die Here het met my gepraat. Ek kon dit nie oor my hart kry om die organisasie toe te maak nie, en daarom fokus ek nou op mense van 60 en ouer en help hulle waar moontlik. Ek beplan om gereeld aktiwiteite vir hulle te reël,” het Uys verduidelik.

Hierdie nuwe wending is ’n bewys van deursettingsvermoë en gemeenskapsbetrokkenheid, en bied hoop vir senior burgers in Van Dyk Park en omliggende gebiede.

Lees Ook: Boksburg Broodblik se deure bly toe

Lees Ook: Boksburg Broodblik needs your support

   

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Boksburg Advertiser in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button