Vreemdeling se barmhartigheid maak die herstel van slaggat moontlik
Die pesioenaris het die man wat R1 400 geskenk het om die slaggat reg te maak as 'n engel beskryf.
Otto Kichenbrand (81) van Cinderella sê sy vertroue in die mensdom is herstel nadat ’n vreemdeling, uit die goedheid van sy hart ’n bydrae gelewer het om ’n groot slaggat in die area te laat regmaak.
Die 81-jarige inwoner het verduidelik dat hy en drie ander pensioenarisse verlede jaar begin het om self die slaggate in Bothastraat, waar hy al 20 jaar woon, te laat herstel.
“Die slaggate was erg, en die los klippe het oral gelê. Ons wou nie hê mense se motors moet beskadig word nie. Vroue en kinders gebruik ook hierdie pad.
“Ons het die probleem al verskeie kere by die munisipaliteit aangemeld, maar dit word net nie reggemaak nie.
“Toe begin ons maar uit ons eie sak betaal om mense te kry om dit te herstel,” het Kichenbrand, wat die leier van die inisiatief is,” gesê.
Daar is egter nog ’n groot slaggat op die hoek van Botha- en Malanstrate wat herstel moet word.
“Terwyl ons met iemand gesels het om ’n kwotasie vir die herstel te kry, het ’n man in ’n SUV gestop en gevra wat aangaan.
“Ek het aan hom verduidelik dat ons die slaggat wil laat regmaak en dat dit ongeveer R1 400 gaan kos. Hy het toe gevra hoe ons die geld gaan insamel.
“Ek het gesê ek sal van deur tot deur gaan en mense vra vir bydraes. Toe haal hy sy beursie uit en gee vir my R100 – al die geld wat hy op hom gehad het.

“Ek het probeer verduidelik dat dit waarskynlik minder as R100 per persoon gaan kos, maar hy het aangedring.”
Tot Kichenbrand se verbasing het die man omtrent ’n halfuur later teruggekeer met nog R1 300.
“Ek was stomgeslaan. Ek het nie eers daaraan gedink om sy naam te vra nie. Ek het vir hom gesê ek kan dit nie vat nie, maar hy het aangedring.
“Ek was letterlik in trane. Dit is vir my ’n riem onder die hart om te sien dat daar steeds mense is wat bereid is om te help,” het Kichenbrand gesê.
Hy het die vreemdeling as ’n engel beskryf.
“Hy het werklik my vertroue in die mensdom herstel. Vandag gee mense nie maklik iets nie. Ek dink ek was so oorbluf dat ek daarom nie eens sy naam gevra het nie.”
Danksy die man se barmhartigheid sal die slaggat nou binnekort herstel word.
Werner Jaenisch, ’n medebewoner van Cinderella, het gesê die toestand van die paaie is so erg dat ’n mens net met ’n bakkie behoorlik kan ry.
“Die slaggate beskadig motors. Ek het al bande verloor as gevolg daarvan. Dit is ook nie lekker om in ’n slaggat vas te ry op pad werk toe, en dan te gaan staan nie. Ek is self ook al deur ‘n slaggat.”
Also Read: Potholes and punctures: A guide for SA motorists
Also Read: No potholes permitted here



