Local news

EG Jansen in rou ná afsterwe van geliefde onderwyseres Amanda Nel

Amanda Nel se invloed sal vir altyd voortleef.

Hoërskool Dr EG Jansen is in rou gedompel ná die afsterwe van die geliefde RTT-onderwyseres Amanda Nel, wat op 2 Oktober haar stryd teen kanker verloor het.

In ’n verklaring het die skool hulle diepe hartseer uitgespreek oor die verlies van ’n buitengewone opvoeder wat vir 37 jaar met toewyding en liefde aan die skool diens gedoen het.

“Haar lewe was ’n lewende voorbeeld van diens, opoffering en roeping – ‘n lig wat geslagte van leerders gelei en gevorm het,” lui die verklaring.

Vir bykans vier dekades was Amanda veel meer as net ’n onderwyseres. Sy was ’n mentor, gids, luisterende oor en inspirasie. “Elke les wat sy aangebied het, elke bemoedigende woord en elke glimlag het ’n ewige afdruk gelaat in die harte van dié wat die voorreg gehad het om deur haar hande gevorm te word.”

Die verklaring lui verder: “Al is die klaskamer nou stil en die lessenaar leeg, leef haar nalatenskap voort in elke kind wat leer om groter te droom, sterker te staan en met moed vorentoe te stap.

“Ons eer haar lewe en sê dankie vir die 37 jaar van getroue diens. Mag ons onthou dat ware onderwys nie net in boeke geskryf word nie, maar in mense se lewens. Rus sag, mev Nel. Jou invloed sal nooit vergaan nie.”

Een van Amanda se kollegas van baie jare, Estie Aucamp, het haar beskryf as ’n ware omgeemens.

“Sy was ’n perfeksionis en haar klas was altyd pynlik netjies. Haar werk was altyd reg, en sy het altyd haar beste gegee. Sy was ’n goeie mens. Ons het ’n lang pad saam gestap en ons kinders het saam grootgeword.”

Medelye ingestroom op die skool se Facebook-blad:

Juanita Willemse: Sy was ’n wonderlike juffrou wat ‘n baie groot impak op my lewe gehad het. Haar liefde en omgee sal ek nooit vergeet nie. Tot na skool was sy daar vir ondersteuning toe ek dit die meeste nodig gehad het. Juffrou sal gemis word.

Michaelé Liebisch: Rus sag, Juffrou!

Japie Vermaak: Rus in vrede, Juffrou. Dit was in Juffrou se registerklas 26 jaar terug waar ek ‘n vriend vir lewe ontmoet het. Dankie vir u goeie hart en impak wat juffrou op ons gehad het.

Ashleigh Booysen: Net ’n paar weke terug het Juffrou nog vir ons klas gegee. Ek gaan Juffrou so baie mis. Juffrou se lesse sal nooit vergete gaan nie, in RTT en in lewe. Juffrou het ons altyd aangemoedig om ons beste te gee. Rus sag liefste Juffrou.

Annemie Burger du Plessis: Rus in vrede Juffrou Nel. So ’n besonderse mens en Juffrou. Ons bid vir haar gesin, familie en vir die skool gedurende hierdie hartseertyd. Sy gaan baie gemis word.

Declan de Klerk: Ai Juffrou Nel, my gunsteling juffrou in my skoolloopbaan. Rus Sag, Juffrou. Jou liefde wat jy vir jou leerlinge gee, sal altyd onthou word

Licinda Pienaar: Dit is sulke hartseer nuus! Rus sag liefste Juffrou Nel. Juffrou het diep atletiekspore in my hart getrap. Juffrou was een ongelooflike mens en gaan ongelooflik gemis word.

Lees Ook: Onderwyseres van EG Jansen verloor stryd

Lees Ook: Woodlands mourns death of music teacher

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Boksburg Advertiser in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button