Sit gerus aan! Kers-tapas op die tafel
Vir De Jager is allemanskos oftewel “peasant food” ’n cuisine op sy eie waarin hy homself tuis vind.
Vir Pretoria-inwoner, sjarmante skrywer en kok, Frik de Jager, is Kersfees ’n familie- en vreugdefees.
“Die fokus moet nooit van lekker saamkuier weggetrek word nie. Almal moet ontspanne om die tafel kan kuier.
Die gasheer en gasvroue moet deel wees van hierdie gesellige saamwees en nie die heeltyd gestres in die kombuis werskaf nie. Dit gaan oor die kuier en saamwees of jy nou twee of 20 mense is,” meen De Jager, ’n bekende op RSG-kosprogramme.
Hy is bekend vir sy langtafelkuiers wat hy landwyd aanbied. Hierdie storiekoskuiers waar hy in ander se huise sowel as sy eie in Pretoria kook, is vir hom “’n groot voorreg. Dis so ’n eer om in ander se huise te kook en oor alle grense te kuier”.
Uit sy pen het onlangs by Naledi Uitgewers ’n kookboek met ’n verskil verskyn, Storiekos – Op reis na resepte.
Hierin skryf De Jager oor die talle lande waar hy gereis het en in die kombuise van plattelanders welkom was. Hy vul die stories aan met resepte en foto’s oor die koskuns wat hy in vreemde lande en kombuise bemeester het.
Vir De Jager is allemanskos oftewel “peasant food” ’n cuisine op sy eie waarin hy homself tuis vind.
As seun van ’n bankbestuurder, het hy op die platteland grootgeword. Die gesin het gereeld van een plattelandse dorpie na ’n ander verhuis.
“Ek dink nou nog dikwels terug aan hoeveel ek net met waarneming geleer het en wat vrouens en kokke op die platteland kon regkry met so min bestanddele. Die manier van kook en bak het sterk in my gemoed vasgeslaan. Ek dink dis hoekom ek so belangstel in allemanskos.”
Alhoewel hy heerlik kan gesels oor die kos uit sy kleintyd, watter puik kok sy ma en ouma was en hoe dikwels hy handgeskrewe familieresepteboeke deurblaai, kry De Jager nie net sy inspirasie uit die verlede nie.
“Ek is nostalgies objektief,” is sy kommentaar oor onlangse kosmodes wat op nostalgie vir inspirasie staat maak.
“Die gevaar bestaan as jy aan die verlede kleef, vergeet jy soms om voluit in die hede te leef. Jy kan nie jou hele lewe daarop rig nie. Jy moet vorentoe kyk.”
’n Geleentheid wat De Jager egter met diepe ontsag wil onthou, is ’n Kersdag wat hy en sy wederhelfte, bekroonde kunstenaar Rory du Plessis, verlede jaar tydens ’n reis in die suide van Indië deurgebring het.
De Jager se allemanskos en resepte word sterk beïnvloed deur sy reise. Hierdie reis na Indië het onvergeetlike herinneringe by hom geskep.
“Ek en Rory het 21 dae in die suide van Indië gereis en was Kersdag in ’n dorpie waar daar soos tot in die sestigerjare, ’n sterk Franse invloed was.
“Daar is nog talle Rooms-Katolieke kerke in die suide. Ons het ons Kersdag vroeg begin met ’n diens in ’n katedraal so teen die see waar alle gelowe welkom is,” vertel die meesterlike storieverteller.
Hy skets die kleurvolle prentjie van kerke vol blomme en stringe kersliggies met inwoners wat alhoewel talle aan die Hindoe-geloof behoort, in die aande na die liggies kom kyk en saamkuier.
Tydens hierdie Suid-Indiese Kersete, het die paartjie keurig gesmul aan disse met kekerertjies, okra, tandhoori-hoender en ghee.

Vir hom was die kosbonus van die reis dat hy geleer het hoe om veral klapper in geregte te gebruik sowel as die regte gebruike van die geurige spesery, kardemom.
Vir ’n eie Kerstafel glo De Jager aan ’n mengsel van tradisie en vernuwing.
“Skep nuwe tradisies en maak die dag ’n Christusfees. Ons begin met ’n kerkdiens en hou die fokus nie juis op geskenke en versierings nie, maar ek glo mens moet groot gaan met ’n Kersboom indien daar kinders kom kuier.”
Hy glo die klein kroos moet nie op só ’n dag afgeskeep word nie.
“Die kleingoed moet ook nie by ’n aparte tafel eet nie en moenie heeltyd aangesê word om nie te raas of te mors nie.
“Eintlik moet dit die kinders se dag wees om oor te neem. Die spyskaart moet so beplan wees dat die kinders met gemak saam kan eet. Dis immers die een dag van bymekaarwees om saam te kuier met liefde en vreugde as fokus.”
Wanneer dit by ’n eie Kerstafel kom, hou De Jager van ’n tafel volgepak met Kers-tapas.
“Veral in die hitte is ’n verskeidenheid van kleiner disse aan te bevele. Pak dit gelyk op die tafel en versier die tafel daarrondom met wat jy in die huis het. Met tapas kan elke gas eet waarvoor hulle lus het. Jy kan ’n hele kuiertafel met verskeidenheid van geurige en smaakvolle kos pak.”
Oor een ding is De Jager ernstig: “En onthou die lapservette. Die okkasie regverdig dit!”
En, wat sou hy – tong-in-die-kies – vir Kersvader op Oujaarsaand uitlos?
De Jager dink vernuwend oor die prettige vraag.
“Ek kan nie bak nie. Ek het nie die geduld en dissipline nie. Hy sal by my ’n Italiaanse roomystert kry wat bestaan uit roomys met vars bessies in die roomys ingewerk.
“As ek kon bak, sou ek my ma se tradisionele vanielje- en vlakoekies en ’n gemmerkoekie so voor in die bord vir hom neersit.”
Getekende eksemplare van Storiekos – Op reis na resepte kan deur De Jager op 084 666 6616 bestel word.
Op Frik de Jager se spyskaart vir Kersfees:
Marokkaanse lam
Bestanddele
1.5kg lamsboud aan die been
1/2 koppie fyngekapte kruisement
1/2 koppie fyngekapte koljander
4 knoffeltoontjies fyngekap
1/2 teelepel gerookte paprika
1/2 teelepel komynpoeier
growwe swartpeper en sout
1/2 teelepel cayennepeper
2 stokkies kaneel
2 eetlepels vars gemmer fyngekap
1/2 teelepel borrie
1/4 teelepel neutmuskaat
4 naeltjies
6 lourierblare
1 koppie suurlemoensap
1 koppie olyfolie
1/2 koppie water
1/2 koppie hoenderaftreksel
Metode
1. Meng al die speserye saam en vryf goed in die lamsboud en plaas die boud in ’n groot lugdigte houer.
2. Meng nou die suurlemoensap, water, olyfolie, kaneel, lourierblare en naeltjies saam om ’n marinade te vorm en voeg by die lamsboud.
3. Marineer oornag in die yskas.
4. Voorverhit oond op 160ºC.
5. Maak ’n mengsel van suurlemoensap, water en olyfolie asook ’n halwe koppie hoenderaftreksel as ekstra vloeistof.
6. Plaas die lambsboud met die marinade in ’n oondbak en voeg nog van die vloeistofmengsel by wanneer nodig.
7. Plaas die deksel op en bak vir 4 tot 6 uur.
8. Bedien met gebraaide botterskorsieskywe of geroosterde kweper en koeskoes.
9. Opsioneel kan dadels, appelkose en geraaide amandelvlokkies ook bygevoeg word.
Sjiffon lemoenkoek
Bestanddele
1 koppie koekmeel
1 1/2 teelepel bakpoeier
3/4 koppie suiker
1/2 teelepel sout
4 eiergele ongeklits
1/2 koppie lemoensap
1/4 koppie sonneblomolie
3 eetlepels gedroogde gerasperde lemoenskil
4 eierwitte styf geklits
1/4 teelepel kremetartpoeier
Versiersuiker om oor te strooi
Metode
1. Sif die koekmeel, bakpoeier, suiker en sout saam in ’n groot mengbak.
2. Maak dan ’n holte in die middel en voeg die eiergeel, lemoensap, olie en gerasperde skil by.
3. Meng al die bestanddele saam.
4. Vou nou die styf geklitste eierwitte in.
5. Voeg die kremetart by.
6. Voorverhit die oond op 180ºC.
7. Bak in ’n gesmeerde koekpan vir 30 tot 35 minute
8. Laat afkoel terwyl nog in die pan en haal mettertyd uit.
9. Sprinkel versiersuiker oor.
Also Road: Watch: Hands off our milk tart, South Africans tell Martha Stewart
![]()
![]()
![]()
![]()



