Local news

Dominique Burger ontbloot nuwe kant met gesellige klank

’n Nuwe rigting, ’n nuwe klank en nog verrassings op pad vir Dominique Burger.

Wat begin het as ’n eenvoudige gedagte tydens vakansiebeplanning, het vir Dominique Burger van Freeway Park onverwags ontwikkel in iets wat sy vandag as ’n seën beskou.

Geïnspireer deur herinneringe aan vorige seevakansies en sorgvrye oomblikke saam met vriende, het los woorde in haar kop uiteindelik vorm aangeneem as Tequila en Vure, ’n liedjie wat ’n nuwe, meer gesellige kant van die plaaslike sangeres ontbloot.

Waar luisteraars haar voorheen leer ken het deur die emosionele enkelsnit Trane, beweeg Dominique met Tequila en Vure doelbewus buite haar gemaksone.

Sy sê sy wou al lank ’n partytjie-liedjie aanpak wat mense laat ontspan en saamkuier.

Volgens Dominique vertel die liedjie die storie van ’n onvergeetlike aand of ’n heerlike vakansie saam met vriende,’n tyd om vir ’n oomblik van die stres en sorge van die lewe te vergeet.

Dit is, sê sy, ’n goedvoel-liedjie wat mense in die bui kry om lekker te kuier, al is die vuur net ’n braai by die huis en nie noodwendig op die strand nie.

Die kreatiewe proses het op ’n eenvoudige manier begin.

Dominique verduidelik dat dit eers net woorde in haar kop was wat sy neergeskryf het en later omskep het in die Tequila en Vure wat luisteraars vandag hoor.

Die opname en vervaardiging is deur Vincent Gordon behartig. Sy sê hy het haar idee volkome verstaan en dat sy uit die proses gestap het met presies die klank wat sy in gedagte gehad het.

Met hierdie snit hoop Dominique dat aanhangers ’n ander, voorheen verborge, kant van haar sal hoor. Sy beskryf die liedjie as gesellig en energiek; een met ’n toon wat die dansgogga wakker maak.

Also Read: Plaaslike sangeres stel hierdie jaar nuwe Afrikaanse popmusiek album vry

Tequila en Vure kan moontlik die begin wees van ’n nuwe rigting in haar musiekloopbaan, ’n rigting wat sy met albei hande wil aanpak. Sy sê daar is beslis nog verrassings in die nabye toekoms op pad.

Sedert haar vroeë optredes en deelname aan sangkompetisies het Dominique se selfvertroue in die studio en op die verhoog merkbaar gegroei.

Met meer optredegeleenthede ervaar sy dit as ’n besondere hoogtepunt wanneer gehore saam met haar haar eie liedjies sing.

Sy voeg by dat sy ook geleer het om die gehoor beter te lees en aanvaar dat dit nie altyd moontlik is om almal tevrede te stel nie en dat dit reg so is.

Die pad na die vrystelling van Tequila en Vure was egter nie sonder uitdagings nie.

Dominique sê die projek het haar finansieel onder druk geplaas, maar dat deure telkens vir haar oopgemaak is.

Also Read: Domique reik na sterre met nuwe enkelsnit

As ’n onafhanklike kunstenaar wat alles self moes hanteer, het sy baie geleer en haarself vertroud gemaak met alles wat nodig is om ’n liedjie op die regte manier vry te stel.

Vooruit beplan Dominique om die Tequila en Vure-musiekvideo teen die einde van Januarie op alle digitale platforms vry te stel. Sy beoog moontlike toere, sal beslis nog nuwe liedjies uitbring en tree reeds gereeld op.

   

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Boksburg Advertiser in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button