Local news

Van Boksburg na die Karoo: Sunel vier 30ste met ’n Camino-stap

Dit was ’n reis van uithouvermoë, gemeenskap en groei.

Om 30 te word het vir Sunel Gilliland van Boksburg nie ’n groot partytjie beteken nie, maar ’n diep persoonlike uitdaging: die voltooiing van ’n Camino-staproete in die Karoo.

Gilliland het in November haar 30ste verjaardag gevier deur die mini Camino by Nieu-Bethesda aan te pak. Dit is ’n 60km-stap oor drie dae, met roetes van ongeveer 20km per dag.

Die Camino-konsep, wat oorspronklik uit Spanje kom, fokus nie op spoed of prestasie nie, maar op doelbewuste stap, refleksie en persoonlike groei.

“Ek het nog altyd gesê ek wil eendag die Camino in Spanje stap, maar dit is duur en tydrowend. Toe ontdek ek daar is verskeie Camino-roetes in Suid-Afrika – meer toeganklik en steeds betekenisvol,” sê Gilliland.

Sy het die Camino aangepak saam met ’n klein groep vroue, insluitend haar lewensmaat, haar ma, twee skoonsusters, asook ’n mede-stapper van Port Elizabeth wat hulle tydens die roete leer ken het. Die groep het mekaar deur die fisieke en emosionele uitdagings ondersteun en saam die 60km-roete voltooi.

Hulle het elke dag vanuit Nieu-Bethesda vertrek en op verskillende roetes deur die dorp, klowe, bergagtige terrein, plaaspaaie en Karooveld gestap. Volgens Gilliland was dit fisiek én emosioneel uitdagend, veral aangesien sy haarself nie as ’n sportiewe of baie fikse persoon beskou nie.

“Dit was buite my gemaksone. Daar was oomblikke van moegheid, hitte en seer voete, maar ek het besef ek kan moeilike dinge doen.”

Also Read: Video:: Performer at heart turns her chaos into art

Benewens die fisieke uitdaging het die Camino ook ’n sterk geestelike en emosionele komponent gehad. Gilliland het elke dag met ’n spesifieke fokus gestap, onder meer dankbaarheid en bewuswording.
“Jy loop nie van punt A na punt B om iets te bereik nie. Jy loop net om te loop. En juis daarin lê die waarde.”

Die ervaring is verder verryk deur die sterk gemeenskapsbetrokkenheid in Nieu-Bethesda. Ná elke dag se stap is die groep bekendgestel aan plaaslike restaurante, winkels en inwoners – van voetewas en massasies tot wyn op ’n boekwinkelstoep en ’n tradisionele Karoo-maaltyd by ’n plaaslike inwoner.

Sunel
In hierdie foto is Maritsa Erasmus, Tanya Louw, Sunel Gilliland, Brenda, Herma Gilliland en Marlize Erasmus.
Sunel
Sunel Gilliland besig om ‘n Caminio-staproete in die Karoo te voltooi.
Sunel
Sunel Gilliland het ongelooflike uitsigte gesien toe sy die Camino voltooi het. Foto: Verskaf

“Dit was nie net ’n stap nie; dit was ’n gemeenskapservaring. Die hele dorp speel ’n rol, en almal dra by om iets besonders te skep.”

Gilliland beskryf die Karoolandskap as oorweldigend mooi, met wild, voëllewe, inheemse plante en oop ruimtes wat ’n skerp kontras vorm met die stadslewe. Hoogtepunte het onder meer arende, skilpaaie, wildsbokke en selfs sjongololos ingesluit, wat later ’n simbool van aanhou en volharding geword het.

Die Camino is aangebied deur Slackpacking the Karoo, wie se span ondersteuning, logistiek en veiligheid verskaf het, met opsies om deelnemers op te tel indien nodig; ’n keuse wat altyd daar was, maar wat Gilliland doelbewus nie geneem het nie.

“Die maklike uitweg was daar, maar ek het gekies om aan te hou. Dit het die oorwinning soveel meer betekenisvol gemaak.”

Sunel, ’n voormalige joernalis by die Boksburg Advertiser, is tans steeds aktief in die kreatiewe en kulturele ruimte en bly betrokke by gemeenskapsprojekte en storievertelling. Sy sê die Camino-ervaring het haar nie net fisiek uitgedaag nie, maar ook haar perspektief as skrywer en mens verdiep.

Also Read: Long-serving Boksburg Hiking Club members still going strong – and loving every minute

Sy hoop haar storie sal ander inspireer wat voel hulle is nie fiks genoeg, nie sterk genoeg of nie ‘gereed’ nie.

“Jy hoef nie perfek voorbereid te wees nie. Soms moet jy net begin loop. Jou uitdaging hoef vir niemand anders sin te maak nie; solank jy dit vir jou doen.”

   

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Boksburg Advertiser in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button