Local sportSport

Verstandelik- en gehoorgestremde speler van Uile kry toekenning

Die rugbyspeler droom daarvan om vir die Boksburg Rugbyklub se senior span te speel.

Michael Els, wat gehoor- en verstandelikgestremd is, is nou ’n inspirasie nadat hy onlangs aangewys is as die o-21 Uile (Makopano Boksburg Rugbyklub) se Mees Gevorderde Speler van die Jaar.

Die 26-jarige het in die begin van 2021 by die klub aangesluit en het reeds diep in die harte van spelers en afrigters ingekruip. Hy draf tans uit in die nommer ses trui en speel stut in die sewes rugby.

Els het ’n bilaterale (albei ore) ernstige tot totale sensories-neutrale gehoorverlies. Dit beteken dat die probleem in die binne-oor voorkom. Hy het nou gehoorapparate. Els het erge koors gehad toe hy ses maande oud was as gevolg van ’n beeninfeksie en daar word vermoed dat dit sy gehoor en brein aangetas het.

Die belowende rugbyspeler het gesê dat hy “super opgewonde” is oor sy toekenning en dat dit vir hom ’n groot eer is.

“My neef, Rudi Els, speel vir die Uile en het my ingetrek. Dit was nogal ’n groot aanpassing tot die spelers my leer ken het en ek vir hulle. Dis ’n awesome groep wat my baie ondersteun.

“My uitdaging is dat ek nie altyd die fluitjie hoor nie, hier help my spanmaats en die skeidsregters wat ook bewus is van my probleem. Ek oorkom dit deur te kyk wat aangaan.

“Om in ’n span te wees laat my voel ek hoort iewers en ek maak vriende. Ek wil nog baie beter speel en goed wees in rugby, sodat ek vir die seniors kan speel.”

Jaen Swanepoel (Makopano Boksburg Rugbyklub o-21 hoofafrigter) saam met Michael Els, wat die toekenning ontvang het vir Mees Gevorderde Speler in die o-21 afdeling.

Els het bygevoeg dat hy nog altyd ’n liefde vir rugby gehad het.

“My inspirasie is Springbokke Faf de Klerk en Eben Etzebeth. Ek wil so goed soos hulle wees. My ma is ook ’n groot rugbyondersteuner en ons kyk altyd die wedstryde saam.

“Sonder die volgende mense se ondersteuning sou ek dit nie kon doen nie: afrigters, spanmaats, my oom en tannie (Danie en Melissa Els), my pa (Jan), stiefpa (Peet Jansen van Rensburg) en my ma (Elize Jansen van Rensburg),” het Els gesê.

Sy raad aan aspirant-rugbyspelers: “Werk hard, wees by oefening en speel met passie.”

Jaen Swanepoel, hoofafrigter van die o-21 Uile, het ook Els geloof as speler.

“Hy is seker een van die mees toegewyde spelers wat ek al afgerig het. Hy het eintlik baie vining geleer hoe die spel werk en die vaardighede wat ons hom geleer het, het hy ook verder gaan inoefen by die huis. Ek wil ook sy ma en stiefpa bedank vir hul toewyding. Hulle is by elke oefening,” het Swanepoel gesê.

Elize het gesê sy is baie trots op haar seun en hoop dat hy nog ver gaan kom met sy rugby.

Lees Ook: Wegholsege vir Boksburg Rugbyklub

Lees Ook: Boksburg Rugbyklub op die wenpad

   

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Boksburg Advertiser in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button