ERU laat Uile vlerk sleep
Met ’n oorweldigende 68-0-sege het East Rand United hul mag gewys teen Boksburg Rugbyklub.
East Rand United (ERU) se regtervleuel, Liya Nqxiki, het sy staal gewys in die Valke Merlinliga-stryd teen Boksburg Rugbyklub by Prince George Park op 31 Mei.
Hy het sy span gehelp om die Uile met 68-0 die loef af te steek.
Die manne van Reiger Park het die hele wedstryd gedomineer, en die Uile kon nie daarin slaag om enige punte aan te teken nie.
In die eerste helfte het die besoekers hul harte uitgespeel en 28 punte op die telbord gesit.
Hulle het die tweede helfte ook soos ’n welgeoliede masjien gespeel en nóg 30 punte aangeteken.
ERU se operasionele bestuurder, Llewellyn Wingson, het ná afloop van die wedstryd gesê dat hy trots is op die span se vertoning.

“Die manne het baie goed gespeel en ’n paar mooi drieë gedruk. Dit is ’n baie goeie begin vir ons,” het hy bygevoeg.
Wingson het genoem dat hulle nou op verdediging gaan fokus.
Boksburg in ’n herboufase
Maritza Botha, die Uile se sekretaresse, het uitgewys dat die klub tans in ’n herboufase is.
“Die eerste span is nog besig om vorm aan te neem, en daar is werk wat gedoen moet word.
“Dit gaan egter al beter, en die feit dat ons tweede span net 14-10 teen ERU verloor het, maak ons trots – want dit is nie ’n groot tellingverskil nie. Ons ouens het gewys hulle kán,” het sy gesê.
Lees Ook: Boksburg Rugbyklub se Wonnie staan vierkantig agter die Bokke
Lees Ook: Boksburg Rugby Club reflects on a successful year



