Yolanda Pretorius, ‘n onderwyseres van Hoërskool Oosterlig, het onlangs aan die Ironman 70.3-kompetisie in Durban deelgeneem.
Dié kompetisie bestaan uit ‘n driekamp wat 1.9km swem, 90.1km fietsry en ‘n 21.1km maraton.
Pretorius het die wedloop in 7:22:08 voltooi. Dit was die eerste keer dat sy hierdie kompetisie aandurf en het 30ste in haar ouderdomsgroep (35 tot 39) geïndig. Sy het ‘n algehele 669ste plek behaal.
“Die Ironman-kompetisie was vir my ‘n groot uitdaging. Ek wou sien of ek in staat is om so ‘n groot kompetisie klaar te maak. Ek het glad nie geweet wat om te verwag nie.
“Die voorbereiding vir hierdie kompetisie het baie opofferings en lang ure geverg.
“My ma het my eintlik geïnspireer om aan Ironman deel te neem. Sy is in 2018 oorlede en het ‘n groot leemte in my lewe gelaat. Nou lewe ek voluit en probeer elke geleentheid aangryp,” het sy gesê.
Vir die atleet was die fietsry die moeilikste deel van die kompetisie.
“Nie net verg dit uithouvermoë nie, maar enige iets kan skeefloop. Ek het baie tyd verloor omdat my fiets op ‘n stadium ‘n pap wiel gehad het,” het sy bygevoeg.
Sy het beklemtoon dat sy dit nie sonder haar man en dogter sou kon doen nie.
“Dan moet ek ook bieg dat my geloof ‘n groot aandeel in my sukses gehad het,” het sy vertel.
Verder is Pretorius verkies tot die Triathlon South Africa Age Group Sprint Distance-span wat in Oktober aan die 2021 World Triathlon Sprint and Relay Championships Bermuda in Hamilton gaan meeding.
ALSO READ: Boksburg athletes selected for cross country team
ALSO READ: Weber and Dance rounds off top three in triathlon



