Alba vind liefde onder die Straatlig
Vir Alba is dit belangrik dat haar musiek altyd n boodskap van hoop dra, veral die musiek wat sy self skryf.
Alba Vorster van Parkrand, ook bekend as Alba V, laat nie gras onder haar voete groei nie as dit by haar musiekloopbaan kom.
Die 16-jarige musikant het onlangs ‘n nuwe liedjie, Straatlig, vrygestel.
Straatlig is n oorspronklike Afrikaanse liedjie uit die pen van die jong musikant, wat ook internasionaal opslae maak met haar popliedjies.
Alba het Straatlig reeds aan die begin van die jaar begin skryf, maar kon dit eers voltooi nadat sy die kundige hulp van die liedjieskrywer Deon Meiring kon inwin tydens Akademia se SkryfNet Liedjieskryf kursus, in samewerking met Maroela Media.
Die liedjie handel oor tienerfase en -emosies uit ‘n filmromanse perspektief.
“Om liefde te vind as n tiener is n spesiale oomblik. Ek het dit nog nie self beleef nie, maar ek het dit geskryf uit die hoek van waar ek graag self liefde sal wil beleef,” vertel Alba.
Die sangeres sê luisteraars is nog altyd ontvanklik vir haar musiek en glo Straatlig sal nie n uitsondering wees nie.
“Almal weet hoe dit voel om verlief te wees. Ek hoop dat hulle met die lied sal kan vereenselwig.”
Alba het verduidelik sy het tydens die produksie van die liedjie baie raad gekry het en is dankbaar vir almal wat dit vir haar gegee het.
Volgens die musikant is Straatlig anders as haar vorige liedjies.
“Ek dink dit is soms nodig om dinge bietjie anders te doen. Dit is baie soft-pop en daar was baie elektroniese elemente.”
Vir Alba, wat voorheen getref het met liedjies soos For me thats a no en Tydbom saam met Janie Bay, sê dis belangrik dat haar musiek altyd n boodskap van hoop dra, veral die musiek wat sy self skryf.
Alba het ook in Oktober na Nederland vertrek waar sy in Veenendal vir die eerste keer Straatlig gesing het tydens die Trots Afrikaans Konsert. Dit was ook die eerste keer wat sy in Nederland opgetree het.
Straatlig is op digitale plaforms soos Spotify beskikbaar.
Meer oor Alba
Alba is sowat vier jaar professioneel in die musiekbedryf doenig. Sy is lief vir drama en die kunste en het ook n belangstelling in die kosmetiese bedryf.
Sy het haar liefde vir musiek as jong dogtertjie al begin ontwikkel en sê haar liefde vir musiek kom vanaf haar musikale familie.
Alba is hou van Riana Nel en Bernice West se musiek en droom daarvan om saam met hulle te werk. Sy tel dié kunstenaars as van haar grootste rolmodelle en sê sy kyk op na die manier hoe hulle liefde vir die Here wys deur hulle musiek.
Alba se musiek is geïnspireer deur persoonlike gebeurtenisse en selfs deur flieks of musiek.
Die Amerikaanse sangeres, danser en liedjieskrywer Tate McRae het n groot invloed op Alba se musiek.
Sy is hard aan die oefen om haar klavier- en kitaar vaardighede op te skerp. Sy beoog om volgende jaar haar eerste EP uit te bring en skryf tans liedjies daarvoor.
Sy het n internasionale platekontrak losgeslaan by Upscale Records nadat Manny haar gesien optree het by die wêreld kampioenskappe vir die uitvoerende kunste in Los Angeles.



