Die Brakpan Dam is byna toegegroei met hiasinte en alhoewel die Ekurhuleni Metro in die proses is om die plante te verwyder, is die vordering maar stadig. Die Herald het die publiek se mening oor die situasie gevra.
Johan McCarter:
Ek vang nie gereeld by die dam vis nie, maar die huidige situasie is vir elke hengelaar ‘n kopseer. Wanneer die wind die hiasinte na die kant waai, waar ‘n mens kan visvang, is dit onmoontlik. Die probleem het hande uitgeruk en daar moes al lankal ‘n plan gemaak word met die hiasinte.
Muriesa Tromp:
Ek kom nie gereeld hierheen nie, maar die huidige toestand van die dam is beslis nie baie aanloklik nie. Die feit dat hier geen toiletgeriewe is nie pla ook baie. Ek sal eerder ‘n toegangsfooi betaal om seker te maak dat toilette aangebring word. Die plek kan baie beter bestuur word.
Johan de Lange:
Ek dink die publiek moet dalk meer betrokke raak. Die hiasinte wat uitgehaal is lê nou langs die dam en verrot, en ek glo die sade waai terug in die dam. Ons het ‘n klomp mense met bakkies nodig om die goed weg te ry. Ek sal beslis help as iemand so ‘n projek wil koördineer.
Wayne Erasmus:
Dit help veel dat die hiasinte uitgehaal word en net so op die oewer van die dam gelaat word. Die goed moet weggery word. Die Metro moet toegangsgeld by die hek begin vra en dié geld kan dan aangewend word om te help met die uitroei en verwydering van die hiasinte.
Jan de Lange:
Ek vang baie gereeld vis by die dam en dit is eintlik baie tragies dat die hiasinte so oorgeneem het. Daar moes al baie lankal na die probleem gekyk word. Dit het nou hande uitgeruk en dit gaan moeilik wees om die hiasinte heeltemal uit te roei. Nou is dit ‘n groot probleem.