Winter meer draaglik gemaak
Daar was Saterdagoggend (13 Julie) groot dankbaarheid by die Brakpan Ondersteuningsraad, toe die organisasie komberse, mussies en serpe, asook sop en broodjies aan ‘n groot groep minderbevoorregte persone uitgedeel het.

Die organisasie pak elke jaar ‘n soorteglyke projek aan, in ‘n poging om die koue wintersdae en –aande so ‘n bietjie meer draaglik te maak vir mense wat nie die luuksheid van warm huise en verwarmers het nie.
Mona Loubser, ‘n sosiale werker van die Ondersteuningsraad het gesê dat sommige van die mense op straat is en dat die kombers en serp of mussie wat hulle ontvang het beslis ‘n groot verskil maak.
Sy het die mense ook aangemoedig om die artikels wat hulle ontvang het op te pas.
Talle helpers, waarvan sommige so jong soos drie jaar oud was, het gehelp om smaaklike sop en broodjies aan die mense uit te deel.
“Ek is baie bly vir hierdie sop en brood wat ons vandag kry; hierdie mense is goed vir ons,” het Solly Mneno gesê.
Vinia Spiden het met ‘n groot glimlag haar kombers en serp in ontvangs geneem en Solly se woorde beaam.
“Die mense van die Ondersteuningsraad is baie goed,” het sy gesê.