72 Jaar in een kerk
Die NG Kerk, Brakpan-Wes, vier vanjaar sy 75ste bestaansjaar en, saam met hierdie mylpaal, is daar ‘n baie unieke gebeurtenis waarvan ‘n mens nie aldag te hore kom nie.

Twee van die kerk se lidmate, Loekie Fourie (84) en sy eggenote, Erica (83), is reeds vir die afgelope 72 jaar lidmate van dié gemeente.
Toe die kerk in 1938 gestig is was hulle daar, en deur die jare het dié bekende egpaar diep spore getrap.
Loekie was vir ‘n tydperk van 25 jaar skriba van die gemeente, terwyl Erica baie van die gemeente se tikwerk gedoen het, voor die aansteling van ‘n voltydse saakgelastelike, etlike jare gelede.
Loekie was ook vir baie jare lid van die kerkraad; eers as diaken en later as ouderling.
Hy is tans ‘n rustende ouderling.
Die egpaar is tans aan die Suidkus en Loekie het telefonies aan die Herald gesê dat dit ‘n wonderlike eer van die Here is om so lank lidmate van een kerk te kan wees.
“Ons is dankbaar dat die Here vir ons die leiding gegee het om hom te dien in ‘n kerk waar ons altyd welkom en tuis gevoel het,” het hy gesê.
Die egpaar het onlangs na die Gold Reef Village Aftree-oord in Sunair Park verhuis, waar hulle gelukkig woon.
Die gemeente vier op Saterdag, 31 Augustus, en Sondag, 1 September, sy 75ste bestaansjaar en skop die Saterdag af met ‘n konsert en ete om 6nm.
Ryan Walt (panfluit) en Steven Sterling (sang) is die gaskunstenaars tydens die geleentheid.
‘n Nagmaaldiens word op Sondag, 1 September, om 9vm gehou, waarna ‘n kranslegging by die graf van wyle ds Z H van der Westhuizen sal plaasvind.
Van der Westhuizen was die eerste leraar van die gemeente en en is op die kerkperseel begrawe.
Oud-leraars en -lidmate is welkom om die feesvieringe by te woon.
Vir verdere besonderhede kan die kerkkantoor by 011 744 3879 gekontak word.



