
Vrydagoggend, om ongeveer 4vm, het die bestuurder van ‘n rooi minibus by ‘n verkeerslig in Denneweg stilgehou.
Twee gewapende mans het hom genader en beveel om na die middel van die sitplek te skuif. Die kapers het aan weerskante van hom ingeklim en in die rigting van Springs gery.
Die slagoffer is naby Springs afgelaai, nadat hy aangerand is. Die kapers het hom daarna beveel om weg te hardloop, wat hy wel gedoen het.
Die ander voorval het Saterdagaand ongeveer 7.15nm in Swarthaakstraat, Dalpark plaasgevind.
Die bestuuurder van ‘n swart Mercedez Benz het voor sy woning stil gehou en gewag dat die hek oopgemaak word.
Vier gewapende kapers het te voorskyn gekom en die man beveel om uit sy voertuig te klim.
Volgens inligting het hy vinnig in die erf gery maar die rowers het hom agtervolg en uit sy voertuig gedwing.
Hy is beveel om plat te lê, waarna die kapers met die voertuig weggery het.
Beide die voorvalle is by die polisie aangemeld en word ondersoek.



