
Isabel van der Vyfer, ’n leerder aan die skool, was vanjaar, net soos verlede jaar, weer die dryfveer agter die gedenkdiens wat by die skool plaasgevind het.
Jason Pretorius (16), Darius Kruger (17) en Michael Eager (16) was deel van ‘n groep van 37 graad 10 leerlinge wat ‘n toer na Hartenbos, in die Suid-Kaap, meegemaak het.
Die kinders het in die moeilikheid beland toe hul bote in ‘n effense onstuimige see omgeslaan het.
Al die leerders, behalwe die drie seuns, kon na veiligheid gebring word.
Die skool en die gemeenskap was destyds diep geraak deur die dood van die drie seuns en daar is hierdie jaar weer op ‘n gepaste wyse aan hulle gedink.
Daar is terselfdertyd weer ‘n fondsinsameling vir Jayden Pletschke (5) gehou.
Jayden het byna twee jaar gelede in sy ouma en oupa se swembad geval en amper verdrink. Hy het erge breinskade opgedoen.
Jayden se ma, Monique, is ‘n enkelouer en was, tydens die ongeluk, in die proses om van mediesefonds te verander.
Haar nuwe mediesefonds het 11 dae na Jayden se ongeluk in werking getree, met die gevolg dat Jayden nie mediese dekking ten tye van die ongeluk of daarna gehad nie.
Sy moes aanvanklik ’n enorme bedrag geld leen om al sy mediese uitgawes te betaal.
Bo en behalwe dié groot las, het Jayden daagliks spesiale sorg nodig.
Monique moet noodgedwonge werk en sy moet iemand betaal om haar met die voltydse versorging van haar seun te help.
Die eens lewenslustige seuntjie moet onder meer doeke dra. Hy kan nie self eet nie en ontvang spesiale voeding deur ‘n spesiale buis in sy magie.
Jayden ontvang terapie en behandeling tot driemaal per week. Hy is op kroniese neurologiese medikasie om sy aanvalle te beheer en, elke ses maande, moet hy Botox inspuitings in sy spiere kry om te verhoed dat hy spasmas kry.
Hy moet spesiale stutte aan sy rug en arm en hande dra en hy sal in die toekoms operasies aan sy mond moet ondergaan.
Al hierdie uitgawes plaas geweldige druk op sy ma.
Isabel het, met die goedkeuring van die hoof van die Anker, George Nell, besluit om vanjaar weer tydens die gedenkdiens ’n fondsinsamelingsprojek vir Jayden te hou.
“Sy ma kon verlede jaar vir Jayden ‘n nuwe rolstoel koop met die geld wat Die Anker leerders op die dag geskenk het,” het Isabel gesê.
Die Anker het tydens die onlangse gedenkdiens weer hul sakke geskud en die geld wat ingesamel is, is aan Monique oorhanidig.
Isabel het ook gisteraand (Donderag) ‘n funksie by Thabong aangebied, om meer fondse vir Jayden in te samel.
Natasha Joubert het opgetree en ’n skildery wat deur Elizabeth Geyser geskenk is, is uitgeloot.