‘n Groot groep leerders het op 24 September vertrek en eers in George in ‘n koshuis tuisgegaan, om vandaar eers die die omgewing so ‘n bietjie te verken.
Leerders en onderwysers het ‘n dag op Hartenbos se strand deurgebring en daarna was dit Mosselbaai toe vir ‘n ete by die wêreldberoemde Kaai 4 braairestaurant.
Daar was ook geleentheid vir die brawes om te gaan snorkel in die helder waters, met opgeleide duikers wat hulle touwys gemaak het.
Op Donderdagoggend (26 September) het die busse die junior en senior groepe by hul onderskeie beginpunte gaan aflaai.
Die junior groep het na die Blaaukrantz hut naby die eindpunt van die Otter wandelpad gestap, en die senior groep het na die Keurbos hut gestap.
Die senior groep het dus heeltyd een hut voor die junior groep gebly en in die volgende dae na die Heuningbos hut, die Sleepkloof hut en die Paul Sauer Brug gestap.
“Soos gewoonlik was hierdie toer ‘n geleentheid vir leerders om hul uithouvermoë te toets, hulle limiete te leer ken en ook op ‘n ander vlak met onderwysers en nuwe maats om te gaan,” het ‘n woordvoerder van die skool gesê.
Die jaar was die 19de keer dat Stoffberg ‘n staptoer gedurende die September vakansie onderneem het, en hul stapklub, wat die grootste in die land is, gaan in 2014 ‘n spesiale staptog aanpak ter viering van hul 20ste bestaansjaar.
Stoffberg se stapklub het in 1994 met 10 leerders en drie personeellede begin.



