Editor's choiceLocal newsNews

Nog ‘n seun by kragpaal geskok

Slegs ‘n paar dae nadat ‘n 12-jarige seun beseer is, toe hy aan die ankerkabel van ‘n kragpaal geraak het, het ‘n soortgelyke voorval Maandag op die hoek van Boundaryweg en Prince Georgelaan plaasgevind.

Luchian Flemix (14) is, net soos Kevin Kuilder, geskok toe hy aan die ankerkabel van ‘n elektriesepaal geraak het.

Luchian se pa, Leon, is erg omgekrap oor die voorval en het gesê dat dit heeltemal onaanvaarbaar is.

Hy het boonop Maandag, na die voorval, tevergeefs probeer om die kliënte dienssentrum te kontak om die voorval aan te meld.

Volgens Leon, het Luchian Maandag saam met sy ma na ‘n haarkapper gegaan en het hy na ‘n kafee op die hoek van Boundaryweg en Prince Georgelaan gestap.

“Toe hy terug keer na die salon het hy aan die ankerkkabel gevat en is onmiddellik geskok,” het Leon vertel.

“Hy kon nie sy hand loskry nie en ‘n motoris, wat gesien het wat besig was om te gebeur, het uit sy motor gespring en Luchian gehelp.

“Ons het ongelukkig nie die besonderhede van die persoon nie, maar ons wil baie dankie sê aan die man wat vir Luchian te hulp gesnel het.

“Luchian het sy ma ingelig oor wat gebeur het en hulle het my gekontak.

“Alhoewel hy nie ernstig beseer is nie, kon die gevolge soveel erger gewees het.

“Benewens sy spiere wat seer was, het my kind darem nie ernstige beserings opgedoen nie.

“Wat my verder bekommer is die feit dat daar ‘n skool oorkant die straat is en, alhoewel dit nou vakansie is, is daar sekerlik kinders wat gereeld by die kragpaal verby loop.”

Leon sou Dinsdag self na die kliëntedienssentrum gaan om die voorval aan te meld.

“Dit help nie om te bel nie, want die fone word nie beantwoord nie,” het hy gesê.

Kevin Kuilder is naby sy ouerhuis, in Gardinerlaan geskok, toe hy ook aan ‘n ankerkabel geraak het.

Hy en sy sussie, Anuscka (7), was oppad na ‘n winkel toe hy aan die kabel geraak het.

Sy ma, Lee-Ann, het sy gille gehoor en hom te hulp gesnel.

Sy hand het ook aan die draad vasgesit en, toe sy ma hom van die kabel probeer loskry, is sy self in die proses geskok.

Kevin is per ambulans na ‘n hospitaal vervoer om behandel te word.

Die Herald het die metro vir kommentaar gevra, na die Kuilder voorval, en weer ‘n navraag gerig na aanleiding van die Flemix geval.

Sodra kommentaar ontvang word sal dit gepubliseer word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button